Werk aan jou huwelik

2021-08-12
Matteus 19:5 NLV

Dr Joyce Brothers het een keer geskerts: ‘My man en ek het dit nog nooit oorweeg om te skei nie… ons het dit soms oorweeg om moord te pleeg, maar nooit om te skei nie!’ Dis maklik om te trou; om suksesvol saam te lewe is moeilik. Hoe doen jy dit dus? Deur kwessies te identifiseer wat opgelos moet word, daaraan te werk en te leer om met die res saam te leef! ‘n Gesnorkery, ‘n gebrek aan kommunikasie, vuil kouse op die vloer, onopgemaakte beddens – jou eggenoot se gewoontes kan jou teen die mure uitdryf.

Omdat Jesus gesê het: ‘…Wat God so saamgevoeg het, mag ‘n mens nie uitmekaarskeur nie’ (vers 6 NLV), hoe moet jy dus konflik hanteer? 1) Val die probleem, in plaas van mekaar, aan. 2) As jy jou stemtoon laag hou en kalm bly, sal jou maat meer geneig wees om aandag te gee. 3) Kies die beste tyd om die kwessie aan te spreek, nie wanneer die kinders honger is of julle altwee moeg is nie. 4) Onthou, mans en vrouens sien dinge verskillend. Wanneer jou eggenoot dus sy of haar siening deel, moenie sug en jou oë rol nie. 5) Daar sal tye wees wat elkeen van julle ‘n kompromie sal moet aangaan. 6) Kies jou woorde versigtig. ‘Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel’ (Efesiërs 4:29 NLV).

‘Daarom… moet julle aanhou om mekaar moed in te praat…’ (1 Tessalonisense 5:11 NLV). ‘…Vergewe mekaar…’ (Efesiërs 4:32 NLV). ‘…[bid] vir mekaar…’ (Jakobus 5:16 NLV). ‘…Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle…’ (Galasiërs 6:2 DB). ‘…julle [moet] mekaar in liefde koester…’ (Romeine 12:10 NLV). Gaan werk nou aan jou huwelik!

Sielskos: Rig 1-3; Luk 12:49-59; Ps 119:49-56; Spr 17:18-21