Laat kritiek vir jou werk

2021-08-11
Spreuke 12:1 NLV

Daar is twee tipes kritiek: 1) Onregverdige kritiek. Daar sal altyd mense wees wat hulself probeer opbou deur ander mense af te breek. Mark Twain het gesê: ‘Bly weg van mense wat jou ambisies probeer verkleineer. Kleingeestige mense doen dit altyd, maar waarlike groot mense laat jou voel dat jy ook groot kan wees.’ 2) Konstruktiewe kritiek. Salomo het gesê: ‘Soos ‘n goue ring by goue juwele, so is die wyse vermaning by die oor wat bereid is om daarna te luister’ (Spreuke 25:12 NLV).

Daar is ‘n groot struikelblok wat jy moet oorkom sodat jy jou hoogste potensiaal kan bereik. Wat is hierdie struikelblok? Ons natuurlike onwilligheid om enigiets onvleiend oor onsself te ontdek. Wanneer jy mure om jou eie onvoldoendheid bou en jou foute probeer wegsteek, maak jy die deur op ‘n noodsaaklike bron van self-kennis toe. Wanneer jy dit doen, ontneem jy jouself die vreugde van groei.

Elkeen van ons kan dit wat ons doen of die manier wat ons dit doen, verbeter. As jy steeds dit wat jy verlede jaar gedoen het vier, het jy nog nie genoeg vooruitgang hierdie jaar gemaak nie. Nadat hy sy derde wêreldkampioenskap gewen het, het die rodeo-kampioen, Tuff Hedeman, nie ‘n groot feesviering gehad nie, maar na Denver toe getrek om ‘n nuwe seisoen te begin – om die hele proses van voor af te begin. Sy redenasie was as volg: ‘Die bul in Denver sal nie beïndruk wees met dit wat ek verlede week gedoen het nie.’

Of jy nou ‘n nuweling of ‘n veteraan is, as jy môre ‘n kampioen wil wees, moet jy vandag onderrigbaar wees. Of, soos Salomo dit stel: ‘…iemand wat hom laat reghelp, is verstandig’ (Spreuke 15:5 NLV).

Sielskos: Rut 1-4; Luk 12:35-48; Ps 119:41-48; Spr 17:17