Dinge gaan beter word

2021-08-10
Jeremia 29:11 NLV

Rou jy oor die afsterwe van ‘n geliefde? Loop jy deur die vure van ‘n skeisaak? Het jy jou huis of werk verloor? Probeer jy om die skerwe van jou lewe op te tel en oor te begin? God sê: ‘Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie…’ Wanneer jy God betrokke maak, lê die beste nog voor!

Toe Ignace Paderewski begin klavierlesse neem het, het sy onderwyser vir hom gesê dat sy hande te klein is om die klawerbord te bemeester. Tog het die vuur in sy gees hom aangedryf om ‘n wêreldbekende pianis te word. Toe Enrico Caruso begin sanglesse neem het, het sy onderwyser gesê hy klink soos die wind wat by die venster inwaai. Vandag word hy egter as een van die wêreld se beste tenore onthou.

As jy inspirasie nodig het, hoef jy nie verder as Christus te soek nie. ‘Laat ons maar net die wedloop hardloop deur op Jesus te konsentreer. Hy het vir ons gewys wat dit beteken om op God te vertrou… Die skande en vernedering van die kruis was nie vir Hom te veel nie. Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag… As julle sy voorbeeld volg, sal julle nooit moedeloos word en tou opgooi nie’ (Hebreërs 12:2-3 DB).

Wanneer dit by verliese in jou lewe kom, rou oor hulle en laat hulle dan agter. ‘Vergeet al die dinge wat in die verlede gebeur het. Dis niks in vergelyking met wat Ek nog gaan doen nie… Sien julle dit nie? Ek gaan ‘n pad maak in die wildernis… Ek maak vir hulle riviere in die woestyn!’ (Jesaja 43:18-19 NLV). Die woord vir jou vandag is: Hou aan vorentoe kyk, want dinge gaan beter word.

Sielskos: Obadja; 2 Joh; Luk 12:22-34; Ps 119:33-40; Spr 17:16