Bou ander mense op (1)
2021-08-06Efesiërs 4:29 DB
Die apostel Paulus skryf: ‘…As julle iets sê, moet dit iets wees wat die moeite werd is om te sê en vir ander iets beteken. Kyk wat nodig en goed is om in die omstandighede te sê en sê dit dan.’ Dink aan die mense met wie jy dit die meeste geniet om tyd mee deur te bring. Hoe sal jy hulle beskryf? Knorrig? Bitter? Negatief? Natuurlik nie! Hulle is mense wat die lewe vier, nie klakouse nie. Hulle is passievol oor die lewe. Die manier om ander mense op te bou, is om hulle as geleenthede in plaas van struikelblokke of verpligtinge te sien. Een leierskapskundige skryf: ‘Een van die beste dinge wat jy vir mense kan doen – wat hulle ook na jou toe sal aantrek – is om die beste van hulle te verwag. Dit help hulle om beter van hulself te dink en help jou terselfdertyd om hulle in ‘n goeie lig te sien.’
‘n Opname van eenhonderd multi-miljoenêrs het een algemene eienskap bewys. Hierdie hoogs suksesvolle mans en vrouens het gereeld die beste in ander mense gesoek. Benjamin Disraeli, een van Brittanje se beste Eerste Ministers, het dit as volg gestel: ‘Die beste ding wat jy vir iemand anders kan doen, is nie net om jou rykdom met hom te deel nie, maar om vir hom sy eie rykdom te openbaar.’ Jy doen dit deur ander mense te waardeer, aan te moedig en hulle te help om hulle potensiaal te bereik.
Napoleon het leiers as ‘handelaars van hoop’ beskryf. Hy het verstaan dat hoop die grootste van alle besittings is. As jy die persoon is wat daardie gawe aan ander mense kan gee, sal hulle nie net aangetrokke tot jou wees nie, maar vir ewig dankbaar wees.
Sielskos: Deut 30:1-32:28; Luk 11:45-54; Ps 119:9-16; Spr 17:4-6