God sal jou lei
2021-08-04Jesaja 52:12 NLV
Wanneer jy onder druk is en in die versoeking kom om te vinnig te beweeg, sal jy God die volgende hoor sê as jy stop en bid: ‘Julle sal nie haastig padgee nie… Die Here sal voor julle uittrek en die God van Israel sal julle van agter beskerm.’ Wat ‘n wonderlike belofte! God gaan voor jou uit om die pad voor te berei en kom van agter af om jou foute reg te maak en jou treë te rig.
Wanneer jy op die punt is om ‘n verkeerde afdraai te maak, sê sy Woord: “‘n Mens beplan sy koers, maar die Here bepaal sy bestemming” (Spreuke 16:9 NLV). As jy Hom toelaat, sal God jou besluite oorheers en jou pad soos nodig herlei. Sy belofte aan jou is: “Die Here sal jou altyd lei. Selfs in tye van droogte sal Hy voorsien in jou behoeftes. Hy sal jou gesond en sterk hou. Jy sal wees soos ‘n tuin wat genoeg water kry… Hulle sal jou noem: ‘Herbouer van Gebreekte Mure, Hersteller van Strate en Huise'” (Jesaja 58:11-12 NLV).
Wanneer jy nie antwoorde het nie en nie weet wat om te doen nie, stel Hy jou gerus: ‘…Ek sal jou onderrig en die pad wys waarop jy moet gaan. Ek sal vir jou raad gee, my oog sal op jou wees’ (Psalm 32:8 NLV). Wanneer die las wat jy dra te swaar word vir jou, sal jy sy stem hoor wat sê: ‘Gee jou kommer oor aan die Here. Hy sal vir jou sorg…’ (Psalm 55:23 NLV).
Om egter in staat te wees om sy stem te hoor, sal jy jou prioriteite moet herrangskik en ander stemme moet ignoreer. Jy moet dit egter doen, want niks is belangriker as die wete in jou hart dat God jou lei nie.
Sielskos: Deut 25-27; Luk 11:14-28; Ps 78:65-72; Spr 17:1-2