God sal vir jou sorg

2021-07-24
Psalm 115:12 NLV

Hoeveel tyd bestee jy om jouself oor dinge te bekommer wat gewoonlik nooit gebeur nie? Wees eerlik! En het iets al enigsins verbeter as gevolg van jou kommer daaroor? Natuurlik nie! Paulus skryf: ‘…Onthou: Die Here kom binnekort! Moet oor niks bekommerd wees nie, maar bid oor alles. Vra alles wat julle nodig het van God, terwyl julle Hom ook dank vir alles wat Hy doen’ (Filippense 4:5-6 NLV). Hy moedig ons dan aan deur te sê wanneer ons dit doen, die vrede van God ons harte en gedagtes sal vul (sien Filippense 4:7).

Die oomblik wat jy begin om bekommerd of angstig oor iets te voel, moet jy jou kommer na God in gebed neem. Laat gaan die gewig daarvan en vertrou Hom volkome om jou of te wys wat om te doen, of jou te wys dat Hy dit sal hanteer. Gebed is magtig teen bekommernis. Wanneer jy onder druk is, is dit altyd beter om daaroor te bid, eerder as om daaroor te wroeg of daaroor te praat.

Sal dit maklik wees om te doen? Nee, as jy jouself al jou hele lewe lank bekommer, dan het bekommernis ‘n gewoonte geword. Met toewyding, volharding en God se hulp, kan jy egter bekommernis oorwin.

Hier is twee sleutels waarmee jy dit kan doen: 1) In plaas daarvan om van jou negatiewe gedagtes te probeer ontslae raak, wat jou net meer daarop laat fokus, vul jou gedagtes met positiewe gedagtes. Skriftuurlike gedagtes! (Sien Filippense 4:8).

2) Tree vinnig op. Sodra jy jouself begin bekommer, sê: ‘Nee, ek gaan nie myself hieroor bekommer nie, want dit help nie.’ Jy mag dalk wonder: ‘Maar wie gaan die probleem oplos?’ God! Sy Woord sê: ‘Die Here dink aan ons en seën ons…’

Sielskos: Hand 27-28; Luk 9:28-36; Ps 42:1-5; Spr 16:16