Harmonie by die huis (1)
2021-06-09Efesiërs 4:2 NLV
Sonder harmonie op die tuisfront, kan al jou suksesse in jou beroep leeg voel. Enige tyd wanneer dit makliker is om met buitestaanders, eerder as met jou eie familie, te praat, is iets gebroke – wat dringend reggemaak moet word. God het jou familie ontwerp om ‘n ondersteuningstelsel en ‘n veiligheidsnet te wees.
Sy Woord gee ons die beste resep om harmonie by die huis te kweek: ‘Met totale beskeidenheid en sagmoedigheid, ja, met geduld moet julle mekaar in liefde verdra. Deur in vrede met mekaar te lewe, moet julle die eenheid wat die Gees bewerk het, bewaar’ (verse 2-3 NLV). Let vier belangrike woorde in hierdie Skrifgedeelte op: ‘beskeidenheid,’ ‘sagmoedigheid,’ ‘geduld’ en ‘eenheid.’ Sonder hierdie noodsaaklike bestanddele sal dit nie werk nie!
Begin dus vir jou kinders bid, in plaas daarvan om reëls neer te lê wat afstand skep wanneer julle verskil. Julle sal nie altyd saamstem nie, maar julle kan leer om mekaar te waardeer, lief te hê en te respekteer. Elke familie gaan deur goeie en slegte tye. As jy egter verdwyn wanneer dit moeilik raak, sal jy die oes wat jy kon gehad het as jy gebly het, misloop.
Soms is die kind wat byvoorbeeld nie noodwendig met jou idees saamstem nie, of jou waardes omarm nie, of nie met die persoon trou waarmee jy gedink het hulle moes trou nie, die kind wat jou op die ou einde die meeste sal seën. Ja, dis ontstellend, maar niks daarvan maak op die ou einde saak nie, omdat familie ‘n lewenslange belegging is. Baie van diegene wat kies om te skei, wens dat hulle net ‘n bietjie langer uitgehou het of net ‘n bietjie meer liefde betoon het. Maak seker dat jy nie een van hulle is nie!
Sielskos: 2 Kon 7-9; Mark 14:66-72; Ps 132:1-10; Spr 13:4-6