Moenie na die aanklaer luister nie

2021-06-08
Openbaring 12:10 NLV

‘n Man wat in ‘n kantoor gewerk het, was mal daaroor om die nuwe werknemers ‘n spesifieke poets te bak. Hy sou hulle nader en fluister: ‘Hulle weet wat jy gedoen het,’ en dan met ‘n glimlag wegstap. Eerstens, sou die nuwe werknemers verdwaas lyk. Dan sou hulle angstig word en wonder: ‘Wat het ek gedoen?’ Dan sou hulle dink: ‘Wie is hulle? Wat weet hulle?’ en: ‘Wat sê hulle van my?’ Omdat selfs die onskuldigste mense ‘n outomatiese neiging het om weg te steek en te beskerm, sou die nuwe werknemer die hele dag senuweeagtig rondloop.

Dis presies hoe Satan te werk gaan! Hy gooi beswadderings rond. Daar is egter goeie nuus: ‘…Die aanklaer van ons medegelowiges is neergewerp, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. En hulle het hom self oorwin op grond van die bloed van die Lam en die boodskap waaroor hulle getuig het…’ (Openbaring 12:10-11 NLV).

Daar is ‘n onfeilbare strategie om die stem van die aanklaer stil te maak. Herinner hom dat die bloed van Jesus Christus jou van alle sonde gereinig het. Net soos Jesus vir Satan in die woestyn oorwin het, so kan jy hom elke keer oorwin deur op die waarheid van God se Woord te staan. Paulus skryf: ‘Wie sal dit waag om ons aan te kla as God ons spesiaal uitgekies het?.. Christus Jesus is tog die Een… wat op die ereplek langs God sit en wat daar vir ons pleit’ (Romeine 8:33-34 NLV).

Hou dus op om jouself te oordeel. Jesus het gekom om jou te red en jou te laat weet dat die straf vir jou sonde weggeneem is en dat die krag daarvan oor jou lewe, gebreek is. God sien jou vandag as geregtig – en dis hoe jy jouself moet begin sien (sien 2 Korintiërs 5:21).

Sielskos: 2 Kon 4:18-6:33; Mark 14:53-65; Ps 48; Spr 13:2-3