Vertel vandag vir iemand van Jesus
2021-05-07Johannes 4:35 NLV
Jesus het gesê: ‘Sê julle dan nie: ‘Daar is nog vier maande voor die oes nie? Ek sê nou vir julle, kyk na die landerye; hulle vertoon reeds wit van die oes.’
Vandag het iemand naby aan jou ‘n desperate behoefte aan God se liefde. Jy mag dalk die enigste Christen wees wat hulle ooit sal ontmoet – of vandag sal ontmoet. As jy hulle dus nie van Christus vertel nie, wie sal dan? Oor die algemeen, is daar vyf redes hoekom ons nie meer dikwels ons geloof deel nie.
1) Ons dink dis die dominee se werk om dit te doen (sien Handelinge 1:8).
2) Ons is nie seker oor ons eie verlossing nie (sien 1 Johannes 5:13).
3) Ons is bang vir verwerping (sien Lukas 12:8-9).
4) Ons het nog nooit persoonlike verantwoordelikheid geneem om te leer hoe om ons geloof te deel nie (sien 1 Petrus 3:15).
5) Ons liefde vir Christus het koud geword (sien Openbaring 2:4-5).
Josh McDowell vertel van ‘n korporatiewe baas wat daarvan gehou het om bestuurders ontspanne te laat voel, hulle dan vas in die oë te kyk en hulle oor hulle doel in die lewe uit te vra. Een dag, nadat hy vir ‘n ruk lank met ‘n man genaamd Bob gesels het, het hy oorgeleun, hom in die oë gekyk en gevra: ‘En wat is jou doel in die lewe?’ Sonder om te aarsel het Bob geantwoord: ‘Om hemel toe te gaan en soveel mense as moontlik saam met my te neem.’ Die baas het gesê: ‘Vir die eerste keer in my loopbaan was ek sprakeloos.’
Vandag mag iemand se ewige lewe op jou gewilligheid om God se liefde met hulle te deel, rus. Dis jou Godgegewe opdrag – vertel hulle dus van Jesus.
Sielskos: Num 27-29; Mark 7:14-23; Ps 44:1-8; Spr 11:9