Goedhartigheid (2)

2021-05-06
Matteus 25:21 DB

Wanneer jy voor die regbank van Christus staan, sal jy een finale geleentheid hê om die woord ‘goed’ te hoor: ‘Uitstekend! Jy is regtig ‘n goeie werker op wie ‘n mens kan staatmaak…’ Jy sal beloon word vir wat jy doen. Op daardie dag, sal God op jou aksies, nie op jou opinies of bedoelings nie, fokus.

Goedhartigheid moet die laaste ding wees waaraan jy dink wanneer jy in die bed klim en die eerste ding waaraan jy dink wanneer jy in die oggend wakker word. Die Bybel sê: ‘Selfs ‘n jongmens word beoordeel volgens wat hy doen; aan sy optrede word bepaal of dit suiwer en opreg is’ (Spreuke 20:11 NLV). Jy weet hoe jy regtig aan die binnekant is, maar die enigste jy wat ander mense sien, is van buite af.

Een Christelike leier skryf: ‘Praat is goedkoop. Maak nie saak hoe baie jy beweer dat jy ‘n goeie mens is nie, die enigste publieke maatstaf is jou aksies. Moet nooit die krag en invloed van net een persoon wat eenvoudig die regte ding, op die regte plek, op die regte tyd doen, onderskat nie.’

Moeder Teresa het altyd die kollig probeer vermy. Haar grootste begeerte was nie om beroemd te wees nie, maar om getrou te wees. Gevolglik het sy die lewe van baie mense aangeraak, selfs al was haar enigste doelwit om die volgende persoon wat seer gehad het, te help. Een van haar gunsteling Skrifgedeeltes was die volgende woorde wat Jesus aan ons gegee het: ‘…Ek verseker julle: As julle iets hiervan vir een van my broers of susters gedoen het, selfs al was dit vir die heel eenvoudigste onder hulle, het julle dit vir Mý gedoen’ (Matteus 25:40 NLV). Probeer dus vandag om goed te doen.

Sielskos: Num 25-26; Mark 7:1-13; Ps 37:32-40; Spr 11:7-8