Probeer vandag om genadig te wees

2021-05-04
Prediker 10:12 NLV

Aesop, die beroemde fabelskrywer, het gesê: ‘Geen daad van genade, maak nie saak hoe klein nie, is ooit tevergeefs nie.’ Soos een pastoor skryf: ‘Dit kos om onvriendelik te wees, maar dit betaal om genadig te wees.’ Om genadig te wees beteken nie dat jy verkeerde dinge verdra of weier om ‘n probleem te konfronteer om polities korrek te wees nie. Soms moet ons konfronteer. Dit moet egter altyd op ‘n genadige manier gedoen word. ‘n Kalm houding sal jou verder as ‘n harde opmerking of ‘n lelike stemtoon bring. Jy kan jou standpunt met ‘n genadige gees en selfs met ‘n sin vir humor maak.

Moenie soos die man wees wat in die tou gestaan het om ‘n vliegtuigkaartjie te koop nie. Toe hy die toonbank bereik, het hy gesê: ‘Ek wil graag ‘n kaartjie New York City toe koop.’ Die klerk het geantwoord: ‘Geen probleem, hoeveel bagasie het jy?’ Die passasier het geantwoord: ‘Ek het drie tasse.’ ‘Wil jy hê ek moet hulle al drie op die vlug na New York inboek?’ het die klerk gevra. ‘Nee,’ het die man geantwoord, ‘ek wil die eerste tas na Phoenix toe stuur, die tweede na Seattle en die derde Londen toe.’ Verbaas het die klerk na hom gekyk en gesê: ‘Ek is jammer meneer, maar ons kan dit nie doen nie.’ Die man het geglimlag en geantwoord: ‘Ek kan nie sien hoekom nie; dis wat julle verlede week gedoen het.’

Onthou: ‘Dis lekker om te luister na wyse woorde. Dwase se gepraat lei net tot vernietiging.’ As jy ernstig daaroor is om volgens die leringe van God se Woord te leef, moet jy vandag probeer om genadig te wees.

Sielskos: Num 19-21; Mark 6:30-44; Ps 37:16-24; Spr 11:4