Die goedkeuring van mense (2)
2021-05-02Psalm 56:12 NLV
Ander mense se goedkeuring is iets wat ons almal geniet, maar jy het dit nie nodig om selfwaarde te kan hê nie. Om ander mense se goedkeuring na te streef sal jou inderwaarheid van jou selfwaarde beroof. Jy sal agteroor vir ander mense buig en net as jy dink jy het alles reg gedoen, sal hulle van plan verander.
Behalwe dat jou sin van vrede gesteel word, maak die strewe na mense se goedkeuring dit onmoontlik om God se leiding te volg – wat jou grootste verlies is. As jy iemand is wat ander mense se goedkeuring soek, sal dit moeilik wees om ‘n leeftyd se gewoonte te verander. Dawid het gesê: ‘in God stel ek my vertroue. Daarom sal ek nie bang wees nie! Wat kan ‘n gewone mens aan my doen?’
Wanneer dit daarby kom om mense se goedkeuring te soek, is daar twee dinge wat jy moet verstaan: 1) Om die siklus te breek, beteken dat jy verwerping kan ervaar wanneer jy nee sê en ander mense van jou verwag om ja te sê. Wanneer die mense in jou lewe gewoond is aan sagmoedige, inskiklike antwoorde, sal hulle aan die begin negatief reageer, totdat hulle aan ‘die nuwe jy’ gewoond geraak het. Dit sal aan die begin intimiderend wees, maar is dit regtig erger as om jou lewe in vrees vir ander mense se reaksies te leef?
2) Jy mag dalk aan ander mense moet verduidelik dat jy in die verlede hulle goedkeuring gesoek het omdat jy onseker gevoel het, maar dat dit nie meer die geval is nie. Jy kan kies om vir ‘n kort tydjie op pad na vryheid te ly, of om lewenslank te ly soos jy sukkel om ander mense te behaag. Maak vandag die regte keuse.
Sielskos: 2 Kon 5:1-27; Matt 6:19-34; Hand 5:1-11