Hoe kom jy oor?

2021-04-20
Kolossense 4:6 NLV

Die Chinese Christelike leier, Watchman Nee, verduidelik in sy boek getiteld The Normal Christian Worker, hoe belangrik dit is om op te let wat jy sê en hoe jy dit sê. ‘As gevolg van onbeheerste uitsprake, word die bruikbaarheid van baie Christelike werkers hewig ingekort. In plaas daarvan om kragtige instrumente in die Here se diens te wees, maak hulle bediening min impak as gevolg van die konstante lekkasie van krag deur hulle agtelosige praatjies.’

Paulus skryf: ‘Met woorde wat altyd vriendelik en sinvol is, moet julle gereed staan om die regte antwoord vir elke mens te gee.’ Dit beteken dat jy wanneer jy praat, moet jy seker maak dat dit in goeie smaak is. Jou gesigsuitdrukking en stemtoon kan bepaal of ‘n persoon dit wat jy sê, ontvang of daaroor aanstoot neem. Weer skryf Paulus: ‘Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel’ (Efesiërs 4:29 NLV).

Voor jy dus praat, moet jy jou houding ondersoek en jouself afvra: ‘In watter gemoedstemming is ek op die oomblik?’ Nie net dit nie, maar ook: ‘Sal dit wat ek nou wil sê help of seermaak, verduidelik of verwar, my laat beter voel of die ander persoon beter laat voel?’

Dawid het sy geneigdheid om die verkeerde ding te sê erken en gebid: ‘Sit ‘n wag voor my mond, Here, hou wag oor wat ek sê. Bewaar my van verkeerde begeertes wat lei na bose dade…’ (Psalm 141:3-4 NLV). Dis nie genoeg om net talentvol te wees nie; om sukses in die lewe te behaal, moet jy ook met wysheid praat.

Sielskos: Dan 8-10; Mark 3:1-6; Ps 103:13-22; Spr 10:14v