Gee aan jou Voorsiener

2021-04-19
1 Kronieke 29:14 NLV

Vrygewige mense is dikwels gemaklik daarmee om oor geld te praat en selfs meer gemaklik daarmee om dit uit te deel. Selfgesentreerde mense het ‘n obsessie daaroor om dit wat hulle het te behou en hoe om meer daarvan te kry. Dis hoekom Jesus, wat die vrygewigste mens in die geskiedenis was, so baie oor geld gepraat het. Hy het die bron daarvan verstaan, die gebruik daarvan verstaan en aan wie dit alles behoort. Sestien van sy agt-en-dertig gelykenisse gaan oor hoe om geld en besittings te hanteer. In die vier evangelies, raak een uit elke tien verse die kwessie aan. Die Bybel het vyfhonderd verse oor gebed, rofweg dieselfde hoeveelheid verse oor geloof, maar oor die tweeduisend verse oor geld en besittings.

Probeer God vir jou iets sê? Alles wat jy het, kom van God af! Jy is dus nie ‘n eienaar nie, maar ‘n bestuurder van sy eiendom. Dit beteken dat wanneer Hy jou op die skouer tik en sê: ‘Gee vir hierdie person of vir daardie saak,’ stry of rasionaliseer jy nie, maar sê: ‘Ja, Here!’ Nadat al die geld ingesamel is om die tempel te bou, het Dawid gebid: ‘Rykdom en eer kom van U alleen, want U heers oor alles. Krag en mag is in u hand, om te verhoog en te versterk. Ons dank U, o God, en prys u heerlike Naam! Maar wie is ek tog, en wie is my volk, dat ons enigiets vir U kan gee? Alles wat ons het, kom van U af, en ons gee vir U net dit wat U reeds vir ons gegee het!’ (verse 12-14 NLV).

Wanneer jy aan God gee, gee jy terug aan jou Voorsiener.

Sielskos: Dan 5-7; Mark 2:23-28; Ps 103:1-12; Spr 10:13