God sal in alles wat jy nodig het voorsien
2021-04-10Romeine 8:32 NLV
George Müller word as een van die grootste geestelike reuse van die kerk geag. Doen jouself ‘n guns en gaan lees op oor sy lewensverhaal. Hy het keer op keer voor oorweldigende behoeftes te staan gekom, na God toe in gebed gedraai, sy beloftes opgeëis en wonderbaarlike wonderwerke ervaar. Groot geloof word egter nie oornag verkry nie; dit word deur ‘n leeftyd van wandel met God gebou.
Müller het gesê: “My geloof is dieselfde geloof wat in elke gelowige te vinde is. Dit het bietjie-vir-bietjie oor die afgelope ses-en-twintig jaar vermeerder. Baie kere wat ek mal van bekommernis moes geword het, het ek vrede gehad omdat my siel die waarheid van God se beloftes geglo het. God se Woord, tesame met die hele karakter van God soos Hy Homself openbaar, beantwoord alle vrae. Sy onveranderende liefde en sy oneindige wysheid het my kalmeer. Ek het geweet: ‘God is in staat en gewillig om my hierdeur te bring.’ Daar staan geskrywe: ‘As God werklikwaar nie sy eie Seun gespaar het nie, maar Hom ter wille van ons almal aan die dood oorgegee het, is daar tog geen manier waarop Hy nie ook alle ander goeie dinge aan ons sal skenk nie.”
Jy vra: ‘Hoe kry ek hierdie tipe geloof?’ Die Bybel sê: ‘Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap…’ (Romeine 10:17 NLV). Net soos ‘n daaglikse dieet van goeie kos jou fisies versterk, so versterk lees, mediteer, bestudeer, verbaliseer en staan op God se Woord jou geestelik.
Die ‘geheim’ tot ‘n suksesvolle Christelike lewe is glad nie ‘n geheim nie – bestudeer God se Woord en ontvang God se Woord in jou. Jy kan nie situasies in die lewe wat angs veroorsaak vermy nie, maar wanneer jou geloof sterk is, kan jy hulle oorkom.
Sielskos: Lev 18-20; Mark 1:21-28; Ps 25:16-22; Spr 10:2