Wees kreatief (1)
2021-03-04Genesis 1:27 NLV
Hoekom vier ons die geboorte van ons kinders? Omdat ons, soos God, gehelp het om iets te skep. Die beroemde Amerikaanse voetbalafrigter, Vince Lombardi, het gesê: ‘Die vreugde word in die skepping, nie die onderhoud daarvan nie, gevind.’
Dis ‘n fout om te glo dat God net in ‘geestelike’ dinge en nie in ‘sekulêre’ dinge geïnteresseerd is nie. Ja, jy moet geestelik groei. Jy moet egter ook die gawes wat Hy vir jou gegee het gebruik om sy doelwitte hier op aarde te vervul en ander mense te seën.
Jy hoef nie ryk te wees of ‘n hoë IK te hê om kreatief te wees nie. Jy kan ‘n kreatiewe haarkapper wees, of met ‘n nuwe resep vorendag kom, of werksgeleenthede vir gevangenes skep om hulle lewens mee te herbou. Dis nie net sekulêr nie, dis geestelik ook!
Jy sal oplet dat die kruis twee balke het: vertikaal en horisontaal. Die vertikale balk verteenwoordig jou verhouding met God, wat Hy vir jou wil doen en wat Hy wil hê jy vir Hom moet doen. Die horisontale balk verteenwoordig wat Hy ons geroep het om vir mekaar te doen. Jy sê: ‘Maar ek is nie baie kreatief nie.’ Sodra jy jou Godgegewe gawe ontdek, sal dit jou kreatiwiteit vrystel.
Paulus skryf: ‘Ons het gawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. Ons moet hierdie vermoëns reg gebruik…’ (Romeine 12:6 NLV). Hou op om jouself te kasty net omdat jy nie so kreatief is soos jy graag wil wees nie. Kreatiewe denke is nie noodwendig oorspronklike denke nie. Dikwels is kreatiewe denke net ‘n samestelling van ander mense se gedagtes wat jy langs die pad ontdek het. Die woord vir jou vandag is dus: wees kreatief.
Sielskos: Gen 37-39; Matt 20:29-34; Ps 136:1-12; Spr 6:30-31