Wanneer jou familie jou nie verstaan nie
2021-03-03Markus 3:35 DB
Die Bybel sê: ‘Die mense het om Jesus gesit toe hulle Hom kom roep. ‘Jou ma en broers wag hier buite vir jou,’ sê hulle. Jesus sê toe: ‘Wie is regtig my ma en broers?’ Hy kyk toe na die mense wat om Hom sit en sê: ‘Hier is my regte familie. Elkeen wat doen wat God van hom verwag, is deel van my familie. Hulle is regtig my broer, my suster, my ma’ (verse 32-35 DB).
Een van die grootste toetse van jou geloof sal familielede wees wat nie jou waardes of visie verstaan of deel nie. Dit sal wysheid en genade van jou kant af verg. Ten spyte van sy familie se onvermoë om Hom te verstaan, het Jesus aangehou om vir hulle om te gee en hulle te respekteer. Hy het egter geweier dat hulle Hom voorsê of om sy opdrag van God, te verander. Sy prioriteit was die mense wat byeen gekom het om te hoor wat Hy vir hulle wou sê.
Voel jy vandag verwerp en misken deur jou familie? Bid dan die volgende gebed: ‘Vader, help my om te lewe soos Jesus geleef het; deur diegene wat my misverstaan in die oë te kyk. Deur hulle woorde aan te hoor en die angel van hulle beskuldigings te voel, maar te leer om dit te bowe te kom. Help my om genadig teenoor die een te wees wie se lewe deur wrokkigheid verteer word en deur vrees verlam word. Bring my volsirkel na ‘n plek van vrede, sodat dit nie sal saak maak wie my misverstaan nie, maar dat ek in staat sal wees om aan te gaan soos Jesus aangegaan het – al die pad na die kruis, die opstanding en die prys toe. In Christus se naam bid ek dit. Amen.’
Sielskos: Gen 35-36; Matt 20:17-28; Ps 77; Spr 6:29