Hou aan volhard
2021-03-02Hebreërs 12:1 NLV
Voor jy gebore is, het God jou aankoms voorsien en ‘n spesifieke plan vir jou gehad. Daardie plan sluit die hantering van probleme en struikelblokke wat oorkom moet word, in, omdat dit die manier is waardeur karakter ontwikkel word. Die teken van ‘n suksesvolle persoon is sy of haar vermoë om probleme as geleenthede, in plaas van struikelblokke, te sien. Die belangrikste lesse vind nie plaas wanneer jy die goeie tye vier nie, maar wanneer jy gedurende die slegte tye volhard. Dis inderdaad hoekom die slegte tye die goeie tye so goed maak!
As jy enigiets van die geboorte van kameelperde af weet, sal jy weet dat die eerste dele wat verskyn, die voorste hoewe en die kop is. Dan kom die hele kalf te voorskyn, tuimel grond toe en beland op sy rug. Binne sekondes rol die baba om en staan op en sukkel om daardie lang, nuwe bene te kry om te beweeg. Dan gebeur ‘n wonderbaarlike ding. Die ma kameelperd posisioneer haarself direk bokant haar nuwe kalfie, kyk of hy ongedeerd is en skop hom weer om. As hy nie weer opstaan nie – skop sy hom weer. Wanneer die kalfie moeg is, skop sy hom weer om hom te stimuleer om weer op te staan. Elke keer wat die baba op sy voete kom, skop die ma hom weer om. Haar aksies mag dalk vir ons wreed lyk, maar sy is besig om haar kind vir oorlewing voor te berei. Tensy die klein kalfie leer om vinnig op te staan en saam met die trop te hardloop wanneer daar gevaar is, sal hy nie oorleef nie.
Wat is die les hier uit te leer? Wanneer die lewe jou onderstebo skop – staan weer op (sien Spreuke 24:16). Gedurende moeilike tye leer jy, deur pure vasberadenheid en deursettingsvermoë, die grootste lewenslesse.
Sielskos: Gen 32-34; Matt 20:1-16; Ps 70; Spr 6:26-28