Leer om ja of nee te sê
2021-01-13Matteus 5:37 NLV
Goeie onderhandelaars verstaan dat om te veel te praat, ‘n teken van onsekerheid en swakheid is. Soms is die kragtigste woorde in enige taal ‘n eenvoudige ja of nee, sonder verdere verduideliking of uitbreiding. Die meeste besluite stuur uiteindelik op daardie punt af. Om dit te kan doen, moet jy in staat wees om hierdie drie vrae te antwoord:
1) Is die besluit alleenlik myne om te maak? As jy die enigste of finale besluitnemer is, moenie huiwer of aarsel nie, maak die besluit. Voor jy dit doen, staan op hierdie Skrifgedeelte: ‘Vra vir God as jy nie kan agterkom wat Hy wil hê jy moet doen nie. Hy sal jou eenvoudig daardie wysheid gee, en jou nie verwyt dat jy dit gevra het nie’ (Jakobus 1:5 NLV).
2) Wat sal gebeur as ek wag om hierdie besluit te maak? In die meeste gevalle, sal dinge óf beter, óf slegter vir een of meer partye raak. Weeg dus jou besluit versigtig, met die besef dat dit heel waarskynlik ten gunste van die swaarder gewig van die argument sal wees en besluit dan. Op hierdie punt, staan op die volgende Skrifgedeelte: ‘Vertrou op die Here met alles wat jy het. Moenie staatmaak op jou eie insigte nie. Vra na die wil van God in alles wat jy doen. Hy sal die regte pad vir jou wys’ (Spreuke 3:5-6 NLV).
3) Het elke besluit ‘n morele en geestelike dimensie? Wanneer jy jou oortuigings of karakter vir populariteit of wins prysgee, sal jy moreel en geestelik bankrot opeindig. Hou dus vas aan jou waardes, baseer jou besluite daarop en staan op hierdie Skrifgedeelte: ‘Die Here hou van ‘n mens wat goeddoen…’ (Spreuke 12:2 NLV).
Sielskos: Eks 28-29; Matt 6:19-34; Ps 74:1-11; Spr 2:6