Struikelblokke tot beantwoorde gebede (4)

2021-01-08
Johannes 15:7 NLV

Die vierde struikelblok tot gebed is onskriftuurlike gebede. Jesus het gesê: ‘As julle aan My verbind bly en my woorde ‘n stewige vastrapplek in julle gekry het, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry.’ Diegene wat volgens die beginsels van God se Woord lewe, bid nie om die lotery te wen of vir hulle perd om eerste in die Kentucky Derby te eindig nie. Hulle weet dat dit onskriftuurlike gebede is wat God nie sal eer nie. Wanneer jy bid, moet jou versoek in lyn met sy wil wees.

Nadat hy vir veertig jaar lank die kinders van Israel in die woestyn gelei het, het Moses uiteraard daarna gesmag om die Beloofde Land binne te gaan en dit saam met hulle te vier; om ‘…die wonderlike land aan die oorkant te sien, die mooi bergwêreld en die Libanonberg’ (Deuteronomium 3:25 NLV). Ten spyte van sy gebede het dit egter nie gebeur nie. Hoekom? “Maar die Here was kwaad… en wou nie na my luister nie. ‘Dit is genoeg!’ het Hy beveel. ‘Moenie weer met My hieroor praat nie. Jy kan na die piek van die Pisgaberg gaan en die land daar vanuit elke windrigting bekyk, maar jy mag nie die Jordaanrivier oorsteek nie'” (verse 26-27 NLV).

Gebed is nie ‘n talisman of gelukbringer of godsdienstige formule wat jy kan herhaal om die resultate wat jy wil hê, te kry nie. Wanneer jou gebede in lyn met die Skrif en in harmonie met God se wil is, sal Hy hulle beantwoord. Hierdie waarheid mag dalk nie populêr in vandag se ‘goedvoel’ generasie wees waar almal die voordele van God se koninkryk op hulle eie voorwaardes wil hê nie. As jy egter ernstig daaroor is dat jou gebede beantwoord moet word – lees die fynskrif!

Sielskos: Eks 16-18; Matt 5:27-37; Ps 42:6-11; Spr 1:28-31