Struikelblokke tot beantwoorde gebede (1)
2021-01-05Jeremia 33:3 NLV
Kom ons kyk vir die volgende paar dae na redes hoekom ons gebede nie beantwoord word nie: Magte van gevalle engele. Daniël het vir drie weke lank gebid en geen antwoord gekry nie. Hoekom? Omdat ‘n bose mag in die geestelik ryk dit geblokkeer het (sien Daniël 10:13). Dus het God vir Migael, een van die aartsengele, gestuur om hom te beveg. Een-en-twintig dae later was die stryd verby en het Daniël sy antwoord ontvang.
Paulus sê: ‘Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose hemelse regeerders en maghebbers… teen die bose geeste in die hemelruimtes’ (Efesiërs 6:12 NLV). Hoe magtig is die Duiwel? Magtig genoeg om jou om die bos te lei (sien 2 Korintiërs 4:4). Magtig genoeg om die regverdiges aan te kla (sien Sagaria 3:1). Magtig genoeg om jou te verslind (sien 1 Petrus 5:8).
Jy vra: ‘Wat kan ek doen om hom te oorkom? Paulus sê dit ook vir ons: ‘Doen alles deur gebed en smeking. Laat die Gees julle elke keer in die gebed lei. Bly in alle omstandighede op julle hoede en bid vir almal wat aan God behoort’ (Efesiërs 6:18 NLV).
Die Christus wat binne-in jou woon, is magtiger as die Vyand waarvoor jy te staan kom. Jesus het gesê: ‘Want wanneer Satan, wat ten volle gewapen is, sy paleis bewaak, is dit veilig – totdat iemand wat sterker is, hom aanval en oorweldig…’ (Lukas 11:21-22 NLV). Satan is sterk, maar Jesus is sterker.
Johannes teken die volgende op: ‘…Die aanklaer van ons medegelowiges is neergewerp, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. En hulle het hom self oorwin op grond van die bloed van die Lam en die boodskap waaroor hulle getuig het…’ (Openbaring 12:10-11 NLV). Is jy nie bly daaroor nie?
Sielskos: Eks 7-9; Matt 4:12-25; Ps 10:1-11; Spr 1:10-16