‘n Woord vir die nuwe jaar (4)

2021-01-04
Deuteronomium 11:12 NLV

Hierdie jaar sal God vir jou sorg. Soos ‘n goeie vader vir sy geliefde kind sorg, sal God oor jou waak en nooit sy oë van jou afneem nie. Hy sal dit ‘dwarsdeur die jaar’ doen. Wie anders kan so ‘n belofte maak – en dit nakom? Jou bankier en prokureur is normaalweg Maandag tot Vrydag vir jou beskikbaar, mits hulle nie te besig is nie en jy hulle dadelik telefonies in die hande kan kry. As jy siek word en nie in ‘n kritieke toestand is nie, mag jy dalk op die dokter se waglys beland.

Dis nie hoe dit met God is nie! Hy waarborg aan jou deurlopende sorg! Jy het egter ook ‘n rol om te speel: ‘As julle al die gebooie wat ek vandag vir julle gee, noukeurig gehoorsaam, en as julle die Here julle God met hart en siel liefhet en Hom dien, sal Ek vir julle reën gee op die regte tyd sodat julle koring [voorsiening in al jou behoeftes], druiwe vir die wyn [vreugde en geluk], en olywe vir olie [die krag en teenwoordigheid van God] kan oes. In die veld sal Ek weiding voorsien vir julle diere [beleggings] sodat julle oorgenoeg kan hê om te eet [seën en sukses in jou besigheid en loopbaan]’ (verse 13-15 NLV).

As jy saam met God stap en Hom eer in alles wat jy doen, kan hierdie een van die mees geseënde jare van jou lewe wees.

Sielskos: Eks 4-6; Matt 4:1-11; Ps 90:7-17; Spr 1:5-9