‘n Woord vir die nuwe jaar (2)
2021-01-02Deuteronomium 11:11 NLV
Hierdie jaar sal jy voor ‘n paar berge te staan kom en deur ‘n paar valleie gaan. Die krag wat jy kry wanneer jy jou laaste berg uitgeklim en oorwin het, sal jou deur jou volgende vallei dra. Die soetste vrugte groei in die vallei, omdat dit water uit die bergstrome ontvang. Jesus het gesê: ‘Dis juis hierin dat my Vader verheerlik word, dat julle baie vrugte oplewer en my dissipels is’ (Johannes 15:8 NLV).
Hierdie jaar wil Jesus hê dat jy meer vrugte in sy diens moet oplewer. Hy sê ook vir jou hoe jy dit kan doen: ‘Julle moet aan My verbonde bly soos Ek aan julle. ‘n Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as dit nie aan die druiwestok verbind bly nie, en só julle ook nie as julle nie voluit aan My verbonde bly nie. Ek is die druiwestok, julle is die lote. Wie aan My verbonde bly en Ek aan hulle, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie’ (Johannes 15:4-5 NLV).
Watter tipe vrugte wil God hierdie jaar in jou lewe sien? Paulus sê vir ons: ‘Net soos ‘n boom wat ‘n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat hulle aan God behoort. Sulke mense gee baie om vir ander. Hulle lewe is vol vreugde. Die vrede wat van God af kom, ken en ervaar hulle. Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees. Hulle straal vriendelikheid en warmte uit… Hulle doen goeie dinge vir ander mense. Ander kan altyd op hulle reken omdat hulle self deur dik en dun op God vertrou. Hulle is vol deernis en ontferming…’ (Galasiërs 5:22 DB).
Wanneer jy dus hierdie jaar voor ‘n berg te staan kom of deur ‘n vallei gaan, onthou dat God by jou is.
Sielskos: Eks 1-3; Matt 3:11-17; Ps 90:1-6; Spr 1:1-4