Ou stemme
2020-12-062 Korintiërs 5:21 NLV
Ghandi het een keer gesê: ‘Ek weier om toe te laat dat enigiemand met vuil voete deur my gedagtes loop.’ Dis egter presies wat ons doen wanneer ons na ou stemme van veroordeling luister.
‘n Gerespekteerde outeur skryf: ‘Negatiewe beskuldigings neem verskeie vorms aan. ‘Jy is nie so geestelik as wat jy moet wees nie… Jy het nie verlede week hard genoeg gewerk nie… God kan as gevolg van jou verlede jou nie seën nie.’ Dis leuens.
Ons hoef nie in veroordeling te lewe wanneer ons foute maak nie. Selfs Paulus het gesê: ‘Ek versuim die goeie wat ek so graag wil doen, maar die slegte wat ek nie wil nie, dít doen ek’ (Romeine 7:19 NLV). Daar is ‘n tyd om berou te hê en ‘n tyd om dit af te skud en vorentoe te beweeg. Jy kan nie die verlede verander nie. As jy vandag in skuld lewe oor gister, sal jy nie die krag hê om in oorwinning te lewe nie. Die Bybel sê: ‘…trek God se vryspraak as borsharnas aan’ (Efesiërs 6:14 NLV). Die borsharnas beskerm jou hart, die kern van jou wese, die manier waarop jy oor jouself dink en voel. As jy dink: ‘Ek het nie veel van ‘n toekoms nie. Ek het te veel foute gemaak. God sal nie tevrede met my wees nie,’ is dit ‘die aanklaer’ wat praat en hy het geen gesag oor jou nie.’
God sê dat die aanklaer ‘neergewerp’ is (sien Openbaring 12:10). Staan dus vas en herinner hom: ‘God het Hom wat nie sonde geken het nie, sonde gemaak ter wille van ons sodat ons, op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word.’ God sien jou ‘in Christus,’ dus is jy volkome, geregverdig en aanvaarbaar. Ja, jy kort nog werk – maar Hy sal nie opgee op jou nie!
Sielskos: Pred 11:7-12:1; Ps 39:4-13; 2 Tim 4:6-8