‘Die Martelaar kompetisie!’
2020-12-05Galasiërs 5:26 NLV
Klink dit bekend? ‘Jy dink jou dag was moeilik? Ek het dertig kliënte voor middagete gehad!’ Dis maklik om in ‘Die Martelaar kompetisie’ vasgevang te word, waar jou probleme erger as enigiemand anders s’n is. As jy nie versigtig is nie, kan dit ook jou huis bekruip.
Alicia Howe skryf: ‘Aan die einde van die dag wanneer frustrasie in die werkplek vars is en huistake nog voorlê, is omstandighede ryp daarvoor. Eggenote wat desperaat nodig het dat hul maat hulle inspanning raaksien, veg vir die titel van die persoon wat die hardste gewerk het.’
Met dit in gedagte: 1) Wees op die uitkyk vir onuitgesproke pleidooie vir bemoediging. Wanneer jou maat frustrasie uitdruk, moenie probeer om te bewys dat jy meer rede tot frustrasie het nie. Jesus het gesê: ‘Elkeen wat kan hoor… moet goed luister…’ (Markus 4:9 NLV). Wat jou maat nodig het, is die versekering dat hulle in staat is om die probleem te hanteer.
2) Bewys dikwels waardering. Die feit dat die samelewing geneig is om spesifieke rolle aan die verskillende geslagte toe te ken, gee jou nie die reg om jou maat as vanselfsprekend te aanvaar nie.
3) Versterk jou eggenoot se pogings om te help. Moenie die manier wat hulle die wasgoed opvou of die tuin hark, kritiseer nie. Wanneer jy dit doen, kan jy gewaarborg wees dat hulle dit nie weer sal doen nie.
Dink aan ‘n vurk met vier tande: a) Respekteer mekaar se werk. b) Erken dat alhoewel julle werke verskillend is, beide van hulle moeilik kan wees. c) Wees sensitief en buigbaar genoeg om te help wanneer dit nie ‘jou werk’ of ‘jou beurt’ is nie. d) Verbied die klagte: ‘Ek’s moeg.’ Dis onproduktief en die kans is goed dat julle altwee moeg is om dit aan te hoor!
Sielskos: Jos 11-13; John 16:19-33; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5