Vermy ‘n ongesonde fokus op jouself (3)
2020-11-25Efesiërs 4:22 NLV
Verwag God van ons om aan groei en self-verbetering te werk? Ja! Dis egter vergeefs as dit jou op jouself gefokus en oorwonne hou. Die Bybelse pad na verandering is om weg te draai van jouself en op God te fokus. Paulus sê: ‘Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ‘n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee’ (2 Korintiërs 3:18 NLV).
God stel nie in ‘verbeterde vlees’ belang nie. In sy oë is ‘verbeterde vlees’ steeds vlees. Hy wil jou karakter transformeer. Al jou self-verbetering strategieë kan nie jou ou sondige natuur transformeer nie. Net God, deur die Gees, kan jou meer soos Christus maak. Dit gebeur nie as gevolg van jou harde werk nie, maar deur sy genade.
‘Wat gaan dus met my vlees gebeur?’ vra jy. God se uiteindelike plan is om dit te vervang en vir jou ‘n nuwe geestelike liggaam te gee. Dis hoekom Paulus skryf: ‘naamlik dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek. Bedrieglike begeertes laat hierdie mens te gronde gaan.’ Jy moet dit nie regmaak of verander nie – jy moet dit uittrek!
Soos ‘n kreef groei en die gevangenis van sy ou skulp afskud, so sal jy die dominansie van jou ou natuur afskud en in jou nuwe een ingroei, soos jy op Christus fokus en in gemeenskap met Hom lewe. Jy word getransformeer – van die binnekant af buitentoe.
Sielskos: 2 Kro 22-24; Joh 13:18-30; Ps 114; Spr 27:20-22