Moet dit nie vir jouself hou nie!

2020-11-21
Markus 5:19 NLV

Was jy al ooit op so ‘n wonderlike plek dat jy nooit daarvan wou weggaan nie? Dis hoe die man in Markus hoofstuk 5 gevoel het nadat Jesus hom van ‘n lewe van waansinnigheid genees het. Hy wou saam met Jesus reis, na sy lesse luister, sy wonderwerke sien en sy geselskap geniet. Jesus het egter vir hom gesê om huis toe te gaan en sy familie te vertel wat God vir hom gedoen het. God wil nie hê dat jy verafgeleë en apart van die wêreld moet lewe nie! Die enigste manier om dit wat jy het te behou, is om dit weg te gee. Na ‘n geestelike bergtop ervaring, moet jy dit wat jy ontvang het neem en met die mense in die vallei deel.

Die man in vandag se teksvers het jare lank in die begrafplaas gewoon. Hy het homself gesny en onsamehangend geskree. Later het die mense hom: ‘…by Jesus se voete sien sit, geklee en by sy volle verstand…’ (Lukas 8:35 NLV). Dis hoe dit steeds werk. Eers klee Jesus jou, dan roep Hy jou. Wanneer jy na Hom toe kom, is jy geestelik naak, dus vou Hy jou in sy geregtigheid toe.

Paulus sê: ‘…iemand wat één is met Christus, is ‘n nuwe skepping. Die ou dinge is verby, kyk, die nuwe is hier!’ (2 Korintiërs 5:17 NLV). Waar jy eens ‘in Adam’ was waar almal sterf, is jy nou ‘in Christus’ waar almal geestelik lewend gemaak word (sien 1 Korintiërs 15:22). Die gesangeskrywer Edwin Mote het geskryf: ‘Clothed in His righteousness alone, faultless to stand before the throne.’

Moet egter nooit vergeet dat wanneer jy ‘geklee en by jou volle verstand is,’ dat dit jou Godgegewe mandaat is om uit te gaan en vir ander mense te vertel wat die Here vir jou gedoen het nie.

Sielskos: 2 Kro 12-15; Joh 12:20-36; Ps 102:12-17; Spr 27:10-12