‘Gelouter in die smeltkroes van lyding’
2020-11-18Jesaja 48:10 NLV
Moet nooit jaloers op iemand anders se talent wees nie. Moet ook nie daardeur geïntimideer wees nie, omdat die God wat hulle geroep en toegerus het, jou ook sal gebruik. Wanneer jy leer om die gawe van God in iemand anders se lewe te waardeer en te prys, sal jy jouself in ‘n posisie plaas waar Hy jou ook kan seën. Ons is almal nodig vir God se plan. Die Bybel sê: ‘Maar nou het God dit so beskik dat daar verskillende lede sal wees en dat elkeen van hulle sy eie plek in die liggaam sal hê, soos Hy dit goedvind’ (1 Korintiërs 12:18 NLV). Soek Hom dus en jy sal jou opdrag vind.
Hoekom het Jesus gesê: ‘So sal baie wat so vernaam lyk, eendag heeltemal onbelangrik wees…’ (Matteus 20:16 NLV)? ‘n Gedeelte van die antwoord word in hierdie woorde gevind: ‘Ek het julle gelouter, maar nie soos silwer nie. Ek het julle gelouter in die smeltkroes van lyding.’ Jy het meer as ‘n roeping nodig – jy het karakter nodig sodat jy geloofwaardigheid kan hê. Dit beteken dat jy tyd in die silwersmid se vuur moet deurbring.
Oor die algemeen is dit nie jou roeping wat jou in die moeilikheid laat beland nie, maar jou karakter – of gebrek daaraan! God het gesê: ‘Ek wil sien hoe jy onder druk reageer. Wanneer jy ‘n ‘ja’ wil hê, maar met ‘n ‘nee’ moet saamlewe. Wanneer jy ‘n publieke bediening wil hê, maar tot agter die skerms beperk word.’ God is ‘n wyse besigheidsman; Hy plaas nie ongetoetse voorraad in sy winkelvenster nie.
Watse ‘smeltkroes van lyding’ bevind jy jouself vandag in? Voel jy die hitte van die silwersmid se vuur? Indien dit die geval is – wees bly! Wanneer jy uitkom, sal jy toegerus en gereed vir diens wees. Dís die woord vir jou vandag!
Sielskos: 2 Kro 1-4; Joh 11:38-57; Ps 81; Spr 27:1-3