Wat dit vat om te wen
2020-11-151 Korintiërs 9:26 NLV
Of dit nou in die wêreld van sport of in die koninkryk van God is, het alle wenners die volgende vyf karaktereienskappe.
1) Selfkennis. Wenners is eerlik oor hulle sterk- en swakpunte. Die Bybel sê: ‘…Want die Here sien elke hart en verstaan en ken elke plan en gedagte. As jy na Hom soek, sal jy Hom vind…’ (1 Kronieke 28:9 NLV). In gebed sien jy jouself soos jy is. Soos jy God se Woord lees, begin jy jouself sien soos jy kan wees.
2) Fokus. Waar jy ookal vandag is, wees daar – want dis waar God is. Mense wat hulle hele lewe lank vir hulle ‘skip om in te kom’ wag, word gewoonlik teleurgestel, of sterf in die hawe. Wenners lewe in die huidige oomblik. Hulle weier om een plek te wees, terwyl hulle gedagtes op ‘n ander plek is.
3) Selfvertroue. Wenners oorkom angstigheid deur hulle oë op die doelwit te hou. Soos hulle nader daaraan kom, vermeerder hulle selfvertroue. Judas skryf: ‘Maar julle, geliefdes, moet aanhou om julleself op te bou…’ (Judas vers 20 NLV). Dis iets wat jy vir jouself en daagliks deur gebed en God se Woord moet doen.
4) Taaiheid. Wenners offer die hede vir die toekoms op. Hulle het geleer om nee vir vergunnings en ja vir dissipline te sê, want die prys is vir hulle meer werd as die koste. Paulus skryf: ‘Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees…’ (1 Korintiërs 9:27 NLV).
5) ‘n Wenplan. Wenners weet dat talent alleenlik nie genoeg is nie; jy het ook ‘n plan nodig waarvolgens jy moet lewe. Het jy al God se plan vir jou lewe ontdek? Lewe jy daarvolgens? Indien nie, praat vandag met Hom daaroor. Dis een van die belangrikste gesprekke wat jy ooit sal hê.
Sielskos: Matt 6:1-4; Mark 12:41-44; Luk 14:12-14; 2 Kor 9:6-11