Maak seker daarvan om God te prys!

2020-11-14
Psalm 34:2 NLV

Die Psalmdigter het gesê: ‘Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees… Kom verheerlik die Here saam met my; laat ons saam sy Naam prys’ (verse 2-4 NLV). Let drie dinge in hierdie Skrifgedeelte op:

1) Jy moet kies om die Here te prys. ‘Ek sal te alle tye die Here loof. Sy lof sal altyd op my lippe wees.’ Dis nie ‘n impuls nie, dis ‘n keuse wat jy maak, ongeag jou gevoelens. Die woord ‘halleluja’ is die bevelvorm van die woord ‘prys’. Dis ‘n uitdrukking van lofprysing, maar dis ook ‘n bevel om die Here te begin prys.

2) Lofprysing roer jou emosies. Eerstens, het Dawid die Here geprys omdat hy beveel is om dit te doen. Tweedens, het hy die Here geprys omdat hy dit wou doen. As jy jou gevoelens wil verander, moet jy jou fokus verander. Voor dit verby was, het Dawid gesing: ‘Maar hulle wat die Here dien, sal Hy bevry. Nie een wat by Hom skuil, sal veroordeel word nie’ (vers 23 NLV).

3) Lofprysing beïnvloed ander. ‘Kom verheerlik die Here saam met my; laat ons sy Naam prys.’ Lofprysing is aansteeklik; dit verander die atmosfeer rondom jou. Wanneer jy saam met mense lofprys, gee dekorum pad voor verruklikheid en jy bevind jouself in ‘n area van vreugde wat jy nog nooit vantevore ervaar het nie.

Lofprysing het verskeie vorms van uitdrukking. Psalm 150 noem nege verskillende maniere om God te prys. Jy kan praat, skree, sing, jou hande klap of hulle ophef. Jy kan musikale instrumente speel, jy kan staan, kniel of dans. Die punt is – maak seker om God te prys!

Sielskos: 1 Kro 19:1-23:20; Joh 11:1-16; Ps 4; Spr 26:17-22