Hoe om moedeloosheid te oorkom (1)
2020-11-11Nehemia 4:14 NLV
Eerstens, vind ‘n beter manier. Terwyl hulle besig was om Jerusalem se mure te herbou, het Nehemia gesê: ‘Ek het sake dopgehou…” Hy het besef dat daar vyande was om te verslaan en struikelblokke om te oorkom, dus het hy toe: ‘…wagte agter die laagste dele van die muur geplaas waar daar oop gedeeltes was. Ek het ook mense by die families laat wagstaan, gewapen met swaarde, spiese en boë’ (vers 13 NLV). Om moedeloosheid te oorkom, het Nehemia besef dat hulle dinge anders sou moes begin doen. Hulle het ‘n nuwe sisteem nodig gehad. Dus het hy mense volgens hulle gawes en sterkpunte georganiseer.
Waansin word gedefinieer as om dieselfde ding oor en oor te doen en vir ander resultate te hoop. Daar is wysheid in hierdie definisie! Wanneer jy moedeloos word, moenie op jou doelwitte opgee nie. Dink eerder aan ‘n nuwe benadering. Was dit verkeerd van die Jode om die mure van Jerusalem te herbou? Nee, hulle het dit net op die verkeerde manier aangepak!
Daar is ‘n les vir ons almal hieruit te leer. Het jy byvoorbeeld ‘n probleem in jou huwelik? Moenie tou opgooi nie; probeer ‘n nuwe houding. Het jy ‘n probleem in jou besigheid? Moenie opgee nie; soek ‘n nuwe benadering, herorganiseer jou skedule en herfokus jou doelwit.
Het jy al ooit van die 80/20 beginsel gehoor? Dis waar 80 persent van jou tyd aan die 20 persent van aktiwiteite wat nie produktief is nie, bestee word en gevolglik raak jy gefrustreerd. Wat jy eintlik moet doen, is om 80 persent van jou tyd aan die 20 persent aktiwiteite wat die beste resultate produseer, te wy. Begin dus oefen om die meerderheid van jou tyd en energie aan die dinge wat jy weet resultate gee, te bestee.
Sielskos: 1 Kro 10:1-12:22; Joh 10:1-10; Ps 133; Spr 26:1-6