Laat jou woorde tel

2020-11-02
Spreuke 18:4 NLV

Wanneer Salomo van ‘diep waters’ praat, verwys hy na die water in die bodem van die put wat die skoonste en die koelste is. As jy wil weet watse tipe water ‘n put het, moet jy na die bodem toe gaan. As jy wil weet wat in ‘n persoon se hart is, moet jy na sy of haar woorde luister. ‘n Ou boer het dit so gestel: ‘Wat onder in die put is, kom altyd in die emmer uit!’

Een van die sekerste bewyse van wysheid en volwassenheid is die vermoë om die regte ding, op die regte manier, op die regte tyd, aan die regte persoon te sê – of om niks te sê nie. Soos jy wyser word, sal jy minder praat en meer sê.

Wanneer iemand in Amerika gearresteer word, word daar van die polisie vereis om hulle Miranda regte aan hulle voor te lees: ‘You have the right to remain silent. Anything you say can and will be used against you in a court of law.’ Tensy jou woorde dus bedoel is om iemand op te bou eerder as om hulle af te kraak, is stilte ‘n reg wat jy elke dag moet uitoefen. Soms is die wysste woorde dié wat nooit gespreek word nie.

Iemand het gesê: “‘n Wyse man is iemand wat twee keer dink voordat hy niks sê nie.” Salomo sê ook: ‘Iemand wat kennis het, praat nie baie nie. Iemand met insig bly kalm. Wanneer ‘n dwaas stilbly, kan dit lyk of hy wys is; en as hy sy mond toehou, lyk hy soos iemand met insig’ (Spreuke 17:27-28 NLV). Dis dus beter om jou mond toe te hou en mense te laat dink dat jy ‘n dwaas is, as om jou mond oop te maak en enige twyfel daaromtrent uit die weg te ruim.

Sielskos: Esra 6-8; Joh 7:45-53 Ps 9; Spr 24:30-34