Moenie gou kwaad word nie
2020-10-09Spreuke 15:18 NLV
Salomo maan ons herhaaldelik om nie gou kwaad te word nie (Spreuke 14:29, 15:18, 16:32). Neem jou Bybel en lees hierdie verse stadig en met gebed deur. Gee noue aandag aan die kere in die Skrif waar Jesus kwaad geword het (daar is min van hulle), en een ding sal dadelik vir jou uitstaan. Hy het nooit kwaad geword oor iets wat iemand aan Hom gedoen het nie. Hy het nooit teruggeslaan en gegrief geword oor mense wat Hom verkeerd behandel het nie. Selfs toe die laksmanne Hom teen die kruis vasgespyker het, het Hy gebid: ‘…Vader, vergewe hulle, want hulle besef nie wat hulle doen nie!..’ (Lukas 23:34 NLV).
As jy ernstig daaroor is om Jesus te volg, moet jy dieselfde doen! Die Bybel sĂȘ: “‘n Vriendelike antwoord kalmeer die gemoedere, ‘n dwars antwoord laat woede opspring” (Spreuke 15:1 NLV).
Het jy al ooit agtergekom hoe brandweermanne nooit vuur met vuur beveg nie? Gewoonlik is water ‘n baie beter keuse. Op dieselfde manier, is ‘n sagte antwoord op ‘n kwaai opmerking, soos om die koue water van kalmte op die vlamme van ‘n vurige humeur te giet.
‘n Universiteitstudie het bevind dat wanneer daar op mense geskree word, hulle amper altyd terugskree. Die navorsing het ook bewys dat jy ‘n ander persoon se stemtoon deur die stemtoon wat jy gebruik, kan beheer. As jy jou stem sag hou, sal jy dit nie net vermy om kwaad te word nie, maar jy sal heel waarskynlik die ander persoon ook daarvan weerhou om kwaad te word.
Wil jy meer soos Christus word en meer sukses in jou omgang met ander mense behaal? Dan is die woord vir jou vandag: Moenie gou kwaad word nie.
Sielskos: 1 Sam 27-31; Joh 1:43-51; Ps 23; Spr 23:4-5