Wat om op jou lewensreis te verwag (4)

2020-10-04
Hebreërs 12:1 NLV

Hier is nog twee dinge wat jy moet weet:

1) Die verkeerde mense sal jou seermaak. Daar is ‘n paar tipes mense waardeur jy nooit beïnvloed moet word nie: mense wat altyd jou hulp en aandag nodig het, negatiewe mense, bitsige mense, dreinerende mense, twyfelende mense en mense wat jou aandag aftrek. Wees lief vir hulle en help hulle op enige manier wat jy kan, maar moet nooit deur hulle beïnvloed of gelei word nie. Moedig hulle aan, maar wanneer hulle begin om jou af te trek eerder as om jou op te hef, moet jy jouself van hulle losmaak en hulle aan God oorgee.

2) Die regte mense sal jou help. Wanneer God ‘n taak het wat gedoen moet word, roep Hy ‘n man of ‘n vrou om dit te doen. Hy roep hulle egter selde alleen. Hy roep ander om hulle by te staan en hulle te ondersteun. Dit beteken dat jou gewilligheid om na hulp uit te reik nie ‘n teken van swakheid is nie, maar van krag. Paulus het ‘n hele hoofstuk in die Nuwe Testament gebruik om erkenning te gee aan die mense wat hom gehelp het om sy visie te vervul. Hy het die volgende vir die mense in Filippi gesê: ‘Elke keer as ek aan julle dink, dank ek God. Ek bid altyd in al my gebede met blydskap vir julle almal omdat julle, van die eerste dag wat julle die Goeie Nuus gehoor het, tot vandag toe saamgewerk het om dit verder uit te dra’ (Filippense 1:3-5 NLV).

As jy wys is, sal jy die dinge wat God jou nie gegee het nie erken, dit aan gekwalifiseerde mense delegeer en met jou kernsterkpunte werk. Dit verg nederigheid van jou, maar in die langtermyn betaal dit goeie dividende!

Sielskos: Est 4:9-5:3; Heb 4:7-16