Wat om op jou lewensreis te verwag (2)
2020-10-022 Timoteus 4:7 NLV
Nie almal wat wegspring, voltooi die resies nie.
Paulus skryf: ‘Onthou, daar hardloop baie atlete op die baan, maar net een ontvang die prys. Hardloop só dat julle die prys sal ontvang. Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit om ‘n prys te wen wat heel gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir ‘n ewige prys. Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. Ek is soos ‘n bokser wat met elke hou tref. Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie’ (1 Korintiërs 9:24-27 NLV).
Paulus praat nie hier van sy verlossing nie; dit was ‘n uitgemaakte saak. Hy praat hier van sy hemelse beloning; en hierdie spesifieke woorde moet jou laat stop en dink: ‘Ek wil tog nie… self deur God gediskwalifiseer word nie.’ Hier is ‘n paar dinge wat sal veroorsaak dat jy op jou reis struikel:
1) Deur nie elke dag God se Woord te lees en te bid nie.
2) Om vir God nee te sê wanneer Hy met jou aan ‘n spesifieke area in jou lewe werk.
3) Morele mislukking wat uit verkeerde gewoontes en verhoudings spruit.
4) Deur toe te laat dat vrees en twyfel jou beheer.
5) Deur tyd met onsinnige doelwitte te verspil.
6) Deur sukses by die werk te behaal, maar by die huis te misluk.
7) Deur nie jou gawes, talente en tyd in God se koninkryk te saai nie.
Die lys kan aangaan en aangaan. Maak die volgende vandag jou gebed: ‘Deursoek my, o God, en ken my hart… Kyk of daar enige gebrek by my is, en lei my op die ewige pad’ (Psalm 139:23-24 NLV). God hou daarvan om sulke gebede te beantwoord!
Sielskos: Lev 23:33-44; Sag 14:16-21; Joh 7:1-40