Radikale toewyding (2)

2020-09-10
Lukas 9:23 NLV

Hier is drie Bybelse voorbeelde van radikale toewyding: 1) Toewyding by die werk. In die verlede het werkgewers hulle werknemers waardeer en werknemers het hulle werkgewers en werke waardeer. Vandag se werkplek is dikwels vyandig, met werknemers wat hulle base kritiseer en die minimum werk doen, terwyl baie base toenemend veeleisend word en hulle werknemers as vanselfsprekend aanvaar. Dis nie God se manier nie. Sy manier vereis wedersydse toewyding tussen die bestuur en die werksmag. Paulus sê: ‘…julle [moet] na hierdie base van julle luister. Respekteer hulle en behandel hulle met ontsag. Wat julle vir hulle doen, moet julle eerlik en opreg doen, asof julle dit vir Christus doen. Moenie net hard werk as jou baas vir jou kyk om in sy goeie boekies te kom nie. Werk liewer hard omdat julle aan Christus behoort en doen wat God van julle vra so goed julle kan. Julle werk mos nie eintlik vir mense nie, maar vir die Here…’ (Efesiërs 6:5-7 DB). 2) Toewyding aan die kerk. Baie Christene neem ‘n kafeteria-styl benadering teenoor die kerk aan. Ons kies waarvan ons hou en los dit waarvan ons nie hou nie. Lidmaatskap in God se kerk vereis egter ‘n verbondsverhouding met ‘n liggaam van gelowiges wat vir mekaar omgee, mekaar koester, vir mekaar bid en saam die grootste taak vervul (sien 1 Korintiërs 12:12-31). 3) Toewyding aan Christus. Christus wil nie lou volgelinge hê nie (sien Openbaring 3:16). Hy het vir die skare gesê: ‘…As enigeen van julle my dissipel wil word, moet jy jou selfsugtige ambisie aflê, elke dag jou kruis opneem en My volg.’ Dit beteken dat jy nie meer jou eie wense en wil volg nie, maar Christus se wense en sy wil volg. Dit is radikale toewyding en jy is daartoe geroep.

Sielskos: Eseg 24:1-27:24; Luk 21:1-11; Ps 78:17-31; Spr 20:15-19