God het beloof om jou te seën!

2020-09-08
Deuteronomium 15:6 NLV

Soms vertrap die lewe jou so dat jy hoop en geloof opgee dat iets goeds ooit met jou sal gebeur. As dit is waar jy vandag is, lees hierdie woorde: ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan het… Ek beplan voorspoed vir julle, nie teëspoed nie. Ek wil hê dat julle hoop vir die toekoms moet hê’ (Jeremia 29:11 NLV). God het ‘n plan vir elkeen van ons, maar nie almal van ons ervaar dit nie. Hoekom nie? Om twee redes: 1) Ons besef nie dat ons regte en voorregte het nie. Ons glo dat God ons kan red en hemel toe kan neem wanneer ons sterf, maar ons dink nie dat Hy enigiets aan ons verlede, ons hede of ons toekoms kan doen nie. 2) Ons lewe ver onder die vlak wat Hy vir ons in gedagte gehad het, omdat ons onsself in die verkeerde lig sien. Ons glo dat Hy enigiemand kan seën – behalwe ons – omdat ons nie waardig is nie. God het jou in die regverdigheid van Christus geklee, dus is jy waardig voor Hom en sal Hy jou ‘seën soos Hy belowe het.’ Wanneer ‘n koning in die Bybelse tyd die troon betree het, het hy seker gemaak dat die vorige koning en sy familie tereggestel is, sodat niemand teen hom kon optrek nie. Toe Dawid dus vir koning Saul vervang het, het Saul se kleinseun, Mefisobet, uit vrees na die woestyn toe gevlug. Dawid was egter ‘n ander tipe koning. In plaas daarvan om sy voorganger se familie uit te wis, het hy gevra: ‘…Is daar nog iemand van Saul se afstammelinge oor? Ek wil aan so iemand goeddoen ter wille van Jonatan’ (2 Samuel 9:1 NLV). ‘Hoekom sal God my seën?’ vra jy. Die antwoord is eenvoudig maar duidelik: ter wille van Christus!

Sielskos: Eseg 20-21; Luk 20:27-40; Ps 78:1-8; Spr 20:7-10