‘n Eerlike vraag

2020-09-05
Psalm 13:2 NLV

Toe Kelly James en twee vriende wat saam met hom op Oregon se Hoodberg rotsgeklim het sterf, het sy broer Frank, ‘n professor in teologie, erken: ‘Dis een ding om in die abstrak van die dood te praat. Dis iets anders om die dood van ‘n geliefde te hanteer. Die dood is lelik. Ons kan nie – ons moenie – probeer om dit met vrome gemeenplasies aanvaarbaar te maak nie. Een vraag spook by my: ‘Waar was God toe Kelly doodgevries het?’ Vir my om dit nie te vra nie, sal wees om God nie ernstig op te neem nie. Ek stel nie voor dat ons as sterflinge God moet oordeel nie; God rapporteer nie aan my nie. ‘n Eerlike vraag uit ‘n gebroke hart is egter ‘n goeie en regverdige ding.’ Dawid was nie bang om vir God te vra: ‘Hoe lank sal U nog anderpad kyk?’ nie. ‘n Paar verse later verklaar dieselfde benoude Dawid egter: ‘Maar ek maak staat op u troue liefde…’ (Psalm 13:6 NLV). Frank James vervolg: ‘Tussendeur al die geestelike konsternasie het God Homself in my rou gemanifesteer. Hy was in my teleurstelling, verwardheid en rou emosies te vinde. My konsep van geloof het soos Abraham s’n geword. Ek moet God vertrou selfs al verstaan ek nie. Tussen genoeg trane om ‘n oseaan te vul, moes ons almal al geliefdes begrawe het. Ons begrawe hulle egter met hierdie belofte: ‘Almal van ons sterf omdat ons almal aan Adam, die eerste mens, verbonde is. Net so sal almal wat aan Christus, die ander mens, verbonde is, weer lewendig gemaak word’ (1 KorintiĆ«rs 15:42 NLV). Dit vrywaar ons nie van rou nie. Dit neem egter ons geloof na dieptes waar hoop deur die hartseer begin deurdring, soos ‘n sonstraal deur ‘n bewolkte hemel deurbreek.’

Sielskos: Eseg 14:1-16:52; Luk 20:9-19; Ps 112; Spr 20:1-4