Wees lief vir hulle vir wie hulle is

2020-08-26
1 Korintiërs 13:8 NLV

Die woorde van ‘n populêre liedjie lui: ‘I love you for a hundred thousand reasons, but most of all I love you ’cause you’re you.’ Daar is ‘n groot waarheid in daardie liedjie, veral as dit by kinders kom. ‘n Christelike sielkundige skryf: ‘Wanneer die geboorte van die eerste kind op hande is, bid die ouers dat hy normaal sal wees – met ander woorde, gemiddeld. Van daardie oomblik af, sal gemiddeld egter nooit goed genoeg vir hulle wees nie. Hulle kind moet uitblink. Hy moet sukses behaal. Hy moet triomfeer. Hy moet die eerste een van sy ouderdom wees om te loop of te praat of fiets te ry. Hy moet ‘n wonderlike rapport kry en sy onderwysers met sy kwinkslae en wysheid verstom. Hy moet ‘n ster in bulletjie rugby wees en later vir die eerste span speel en hoofseun wees. Sy suster moet soos ‘n engel kan sing, goed ballet doen en hoofmeisie wees. Sommige ouers gee hulle kinders dieselfde boodskap dag na dag gedurende hulle formatiewe jare: ‘Ons maak op jou staat om iets fantasties te doen. Moenie ons teleurstel nie.’ Ongelukkig is uitsonderlike kinders presies dit – ‘n uitsondering. Dit gebeur selde dat ‘n vyfjarige die Bybel memoriseer, skaak geblinddoek kan speel of simfonieë komponeer. Die oorgrootte meerderheid van ons kinders is nie skitterend briljant nie. Hulle is net kinders, met ‘n oorgrootte behoefte om geliefd te wees en aanvaar te word net soos hulle is. Die meeste ouers het gemiddelde kinders. Om meer te verwag lei tot aansienlike teleurstelling vir ouers en plaas onrealistiese druk op die jonger generasie.’ As jy lief is vir jou kinders vir wie hulle is, sal hulle eendag trots wees op jou en jou seën (sien Spreuke 31:28).

Sielskos: Gal 1-3; Luk 17:20-37; Ps 119:145-160; Spr 19:1-2