Ontwikkel ‘n houding van dankbaarheid

2020-08-25
1 Tessalonisense 5:18 NLV

God is duidelik oor hierdie kwessie: Ons is geroep om dank te betuig. Wie? Jy! Wanneer? In alle omstandighede. Hoekom? Omdat dit God se wil is vir jou! Hierdie deel van God se wil is duidelik. Dis nie ‘n voorstel nie, dis ‘n bevel. Aangesien daar meer bevele oor danksegging as enigiets anders in die Skrif is, geniet God dit duidelik om dank te ontvang. Die Psalmdigter het gesê: ‘Ek sal God se Naam loof met sang, Hom met danksegging verheerlik. Die Here verkies dit bo bulle en bo ‘n volmaakte offerdier’ (Psalm 69:31-32 NLV). Hoekom moet God ons daaraan herinner om dankbaarheid te betuig? Om dieselfde rede hoekom jy jou kind daaraan herinner om dankie te sê – dis bedagsaam en totdat dit nie ‘n gewoonte word nie, vergeet ons om dit te doen! Dawid, ‘n man na God se eie hart, het dikwels sy vergeetagtige siel daaraan herinner om dankie te sê: ‘Ek wil die Here prys en nie sy goeie dade vergeet nie’ (Psalm 103:2 NLV). Wanneer jy ondankbaar voel, stop en lees Dawid se ‘lys van voordele’ in jou Bybel – dit sal jou houding van dankbaarheid aanvuur. Selfs wanneer omstandighede nie goed lyk nie, kan God dit tot jou voordeel omdraai. Hy verdien in alle dinge jou dank. Selfs op sy laagste punt – in die vis se maag – het Jona die behoefte om God te dank herken. ‘…Ek het uit die doderyk geroep en U het my gehoor!… Ek sal met lofliedere vir U ‘n offer bring…’ (Jona 2:2,9 NLV). Maak dit dus ‘n gewoonte om ‘…altyd in die Naam van ons Here Jesus Christus vir God die Vader dankie vir alle dinge [te sê]’ (Efesiërs 5:20 NLV). Met ander woorde, ontwikkel ‘n houding van dankbaarheid.

Sielskos: Rig 19:16-21:25; Luk 17:11-19; Ps 119:137-144; Spr 18:22-24