Bly uit die moeilikheid
2020-08-242 Timoteus 2:22 NLV
Die Bybel beskryf die toneel vir ons: “‘Ek het nou na jou toe gekom. Ek het na jou gesoek en hier het ek jou nou gekry. Ek het my bed oorgetrek met beddegoed van bont Egiptiese linne… Kom ons verlustig ons in liefdeslus, dwarsdeur die nag tot môre-oggend. My man is nie by die huis nie… Eers met volmaan sal hy weer terugkom.’ So oorreed sy die jong man met haar mooipraatjies… Hy loop dadelik agter haar aan. Hy was soos ‘n bees wat na die slagpale gelei word. Hy was soos ‘n wildsbok wat in die slagyster trap en ‘n pyl kloof sy hart. Hy was soos ‘n voël wat blindelings in ‘n vangnet vasvlieg. Hy het nie geweet dat sy lewe verby is nie” (Spreuke 7:15-23 NLV). Kom ons moderniseer die toneel. Die bed kan ‘n waterbed of die agtersitplek van ‘n motor wees. Die linne kan ‘n dik mat voor ‘n kaggel wees. Die kruie kan bier en pizza saam met sagte agtergrondmusiek wees. Vandag noem ons sulke ontmoetings ‘vriende met voordele.’ Dit beteken dat elkeen die voordele van seksuele intimiteit geniet, sonder ‘n greintjie toewyding of kommer oor die ander persoon se welstand. Kundiges kan ‘n groeiende berg bewyse dokumenteer dat dit altyd op dieselfde manier eindig: met skuldgevoelens, depressie en verwoeste lewens. Salomo pleit: ‘Luister na my, my seuns. Slaan ag op wat ek sê. Moenie julle ophou met so ‘n vrou nie. Bly uit haar pad uit. Baie is al op haar kerfstok. Sy het al talle sterk mans so laat ondergaan. Haar huis is die kortpad na die doderyk, die voorportaal van die dood’ (verse 24-27 NLV). Met ander woorde: Verwyder jouself van skadelike situasies voordat jy daarin vasval!
Sielskos: Rig 16:1-19:15; Luk 17:1-10; Ps 119:129-136; Spr 18:21