Wees tevrede met jou roeping (2)

2020-08-23
2 Korintiërs 5:9 NLV

Paulus skryf: ‘Ons streef in elk geval daarna… om Hom tevrede te stel. Ons almal moet voor die regbank van Christus verskyn sodat elkeen van ons kan ontvang volgens wat ons in ons aardse liggame gedoen het, of dit goed en of dit waardeloos was’ (verse 9-10 NLV). As jou hoofdoel in die lewe is om mense tevrede te stel, sal jy teleurgesteld wees. Die oomblik wat jy hulle nie meer tevrede stel nie, is die kans goed dat hulle jou sal kritiseer of jou sal verlaat. Die punt is dat jy nie aan almal toegewys is nie! Sodra jy dus jou Godgegewe gawe ontdek, vra: ‘Here, na wie toe stuur U my?’ ‘Een nag het die Here deur ‘n visioen vir Paulus gesê: ‘Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie, want Ék is by jou. Niemand sal ‘n hand op jou lê om iets slegs aan jou te doen nie, want in hierdie stad behoort baie mense aan My.’ Paulus het die stad vir ‘n jaar en ses maande lank sy basis gemaak en die mense onderrig in die woord van God’ (Handelinge 18:9-11 NLV). Na wie toe het God jou gestuur? So seker as wat ‘n plant net in die regte soort grond floreer, so sal jy slegs sukses in die plek waaraan God jou toegewys het, behaal. Petrus het goed gedoen deur vir die Jode te preek, terwyl Paulus skryf: ‘…Hy [het] my… geroep… Dit het gebeur sodat ek Hom aan die nie-Jode kan verkondig…’ (Galasiërs 1:15-16 NLV). Jy moet mense liefhê en na die regte mense luister. As dit egter by jou roeping kom – moet jy deur God gelei word! Gaan dus waar Hy jou stuur en vertrou dat Hy vir jou sal sorg.

Sielskos: Job 2:7-10; Job 40:1-5; Job 42:7-17; Jak 5:10-11