Oorkom verwerping (3)
2020-08-20Spreuke 31:18 ABA
Die foute wat jy al gemaak het mag dalk erg, groot en herhaaldelik gewees het. Hulle het egter nie God se dunk van jou verander nie. ‘…Ek het jou lief met ‘n liefde wat nooit ophou nie. Ek trek jou met troue liefde na My toe. Ek sal jou weer herbou soos jy vroeër was…’ (Jeremia 31:3-4 NLV). Ja, God sal jou korrigeer wanneer jy dit nodig het. Sy korreksie is egter nie verwerping nie – dis ‘n bewys van sy liefde. ‘Die Here dissiplineer juis die mense vir wie Hy lief is…’ (Hebreërs 12:6 NLV). God se doel met dissipline is om jou tot jou hoogste potensiaal te ontwikkel. Moet dus nie toelaat dat enigiemand jou minderwaardig laat voel nie. Wees jou oorspronklike self wanneer jy by ander mense is. Fokus op dit wat jy het om te gee, eerder as hoe ander mense jou sien. Moenie spog of groot name in die gesprek laat val om die speelveld gelyk te probeer maak nie. Jy is alreeds op dieselfde vlak – selfs al het jy nie ‘n soortgelyke opvoeding, ervaring, finansiële status, sosiale stand of agtergrond nie. Van wanneer af het sulke dinge mense beter as ander gemaak – veral in jou hemelse Vader se oë? Salomo beskryf die kwaliteite van ‘n uitnemende vrou: ‘Wanneer sy sien dat mense graag haar goed koop, dan werk sy die hele nag.’ Hierdie vrou was nie hoogmoedig omdat mense haar goed wou koop nie, sy het net vertroue gehad in haar Godgegewe opdrag en wie God haar gemaak het om te wees. Haar selfvertroue het van binne af gekom. Salomo eindig die hoofstuk met hierdie woorde: ‘Gee vir haar die waardering wat sy verdien. Laat sy erkenning geniet in die stadspoort’ (Spreuke 31:31 NLV).
Sielskos: Rig 7:1-9:33; Luk 15:11-32; Ps 119:105-112; Spr 18:10-12