Vergewe en beweeg aan (1)

2020-08-11
Filippense 3:13-14 NLV

Hoe groter die oortreding, hoe moeiliker is dit om te vergewe – maar jy moet. Dit wat jy weier om te vergewe en te laat gaan, dra jy met jou saam. Dit sal soos ‘n albatros om jou nek wees. Het iemand jou misbruik, jou verkul, oor jou gelieg, jou afgedank of op ‘n ander wyse sleg behandel? Het jy jouself gefaal? Wat jou spesifieke seer ook al mag wees, die oplossing is nie om dit te voed of dit te ontken nie. Jy moet dit vergewe en laat gaan, andersins sal jy aanhou om jouself seer te maak. Iemand het gesê deur te kies om nie ‘n ander persoon te vergewe nie, is soos om gif te eet en te verwag dat die ander persoon sal doodgaan. Om vorentoe te beweeg, moet jy ‘laat gaan’ en vrede met die verlede maak. Paulus kon maklik toegelaat het dat die herinnering aan die Christene wat hy vervolg het voor hy Christus begin volg het, hom vernietig en sy lewensdoel by hom steel. In plaas daarvan het hy geskryf: ‘Broers en susters, moenie my verkeerd verstaan nie. Ek wil nie maak asof ek die een is wat volmaak is nie. Alles behalwe dit; maar ek gee alles om so te probeer wees. Daarom steur ek my nie meer aan my verlede en al die dinge wat toe skeefgeloop het nie. Soos ‘n atleet wat sy oë net op die wenpaal hou, so span ek alles in my in: ek wíl die prys aan die einde kry. God self sal die prys uitdeel en my dan na Hom toe roep omdat ek aan Jesus behoort’ (verse 13-14 DB). Hier is nog ‘n Skrifgedeelte: ‘…vergewe eers enigeen teenoor wie julle ‘n grief het. Dan sal julle hemelse Vader ook julle oortredings vergewe’ (Markus 11:25 NLV). Vergewe dus en beweeg aan.

Sielskos: Deut 28-29; Luk 12:35-48; Ps 119:41-48; Spr 17:17