Hoe om moeilike mense te hanteer (5)

2020-08-09
Matteus 5:39 NLV

Jesus het gesê: ‘…As mense jou op jou regterwang klap, draai vir hulle ook jou ander wang.’ In Jesus se tyd was die samelewing rondom skande en eer gebou. Die linkerhand is as onrein gesien; dit moes nie gebruik word om te eet – of te slaan – nie. Dus sal ‘n klap op die regterwang deur die agterkant van die hand gedoen word. Dit was ‘n manier om iemand in die openbaar te beledig. Net iemand wat sosiaal benede jou is, soos ‘n slaaf of ‘n kind, is met die rugkant van jou hand geklap. Wanneer iemand jou dus beledig, wat moet jy doen? Almal verwag een van twee reaksies: weerwraak of ineenkrimping. Jesus sê dat jou veiligheid en jou eer in die hande van jou hemelse Vader is. Nou raak ons kreatief. Een moontlikheid is om die ander wang te draai. Jou vyand kan jou nie met die rugkant van sy hand op jou linkerwang slaan nie. Óf hy moet jou as sy gelyke beveg, wat hy nie wil doen nie, óf hy moet ‘n vreedsame manier kry om die konflik op te los. Deur wie word jy dus beledig? ‘Klappe’ neem dikwels die vorm van snedige of agterbakse opmerkings aan. Iemand verkleineer jou idee by die werk. Iemand beskuldig jou vals by die huis. ‘n Familielid sê iets veroordelend oor jou. Wat is jou eerste instink – weerwraak, vrees, of beide? Met die Heilige Gees wat jou help, is daar ‘n nuwe moontlikheid. Moenie weghardloop en wegkruip nie. Moenie terugslaan nie. Konfronteer die ander persoon met eerlikheid en krag. Wees kreatief, geduldig en aktief. Werk liefdevol na ‘n versoening toe. Wanneer iemand jou ontstel – kies Jesus se opsie.

Sielskos: Rut 2:5-12; Rut 3:1-6; Rut 4:9-17