Hoe om moeilike mense te hanteer (4)

2020-08-08
Romeine 12:19 NLV

Jesus het gesê: ‘Julle het gehoor dat daar gesê is: “‘n Oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand.” Maar Ek sê… As mense jou op jou regterwang klap, draai vir julle ook jou ander wang’ (Matteus 5:38-39 NLV). Alhoewel die ‘oog vir ‘n oog’ konsep vir ons wreed klink, was dit in werklikheid ‘n reuse tree vorentoe in die antieke wet, waar magtige mense jou vir ‘n klein besering kon doodmaak. Hierdie wet het weerwraak beperk deur mense proporsionele geregtigheid te leer. Dit laat ons egter steeds met ‘n probleem. Instink sê dat wanneer iemand jou seermaak, maak jy hulle terug seer – en die pyn wat jy ervaar is altyd erger as die pyn wat jy vir die ander persoon veroorsaak. Tydens ‘n eksperiment is mense in pare opgedeel en elke persoon het druk teen hulle vinger ontvang. Toe is hulle gevra om dieselfde hoeveelheid druk op die ander persoon se vinger uit te oefen. Wanneer dit hulle beurt was, het hulle altyd meer pyn veroorsaak as wat hulle ontvang het. Altyd. Die resultaat is ‘n oog ‘plus-‘n-klein-bietjie ekstra’ vir ‘n oog. Jy sê: ‘Maar hierdie persoon het my seergemaak en moet daarvoor betaal.’ Hoeveel moet hulle betaal? Net God is in staat om daardie vraag regverdig te beantwoord! Sy Woord sê: ‘Geliefdes, julle moet julleself nie wreek nie. Laat die straf aan God oor. Daar staan mos in die Skrif: ‘Dit is mý reg om te straf; Ek sal vergeld, sê die Here.’ Doen eerder wat die Skrif sê: ‘As jou vyande honger is, gee aan hulle iets om te eet. As hulle dors is, les hulle dors. Deur dit te doen, sal julle hulle bloedrooi van skaamte maak.’ Moenie toelaat dat die slegte julle onderkry nie, maar deur goed te doen moet julle die slegte te bowe kom’ (Romeine 12:19-21 NLV).

Sielskos: Deut 22-24; Luk 12:13-21; Ps 119:25-32; Spr 17:11-15