God wil hê dat jy geduldiger moet word
2020-08-04Romeine 5:3 NLV
Hoe ouer ons word, hoe geduldiger word ons, selfs al het ons minder tyd wat vir ons voorlê. Hoekom gebeur dit? Perspektief! Ons probleme het nie verander nie, maar ons perspektief het wel. Ons het al lank genoeg gelewe dat ons kan sê: ‘Dit sal ook verbygaan,’ of ‘Sy genade is genoeg.’ In plaas daarvan om te kla, wat net die probleem vererger en ons vreugde steel, kyk ons soos Josef op die ervarings terug wat ons gedink het ons nooit sou deurmaak nie en sê: ‘Wat my betref, het God die kwaad wat julle gedoen het, omgekeer in iets wat goed is…’ (Genesis 50:20 NLV). Geduld is een van die nege vrugte van die gees wat in Galasiërs hoofstuk vyf genoem word. Dis egter ‘n vrug wat baie stadig groei en in die grond van moeilikheid en toetse floreer. Sommige van ons is soos die dame wat gebid het: ‘Here, gee my asseblief geduld. Nou dadelik!’ Jammer, maar dis nie ‘n gebed wat God kan beantwoord nie. Jakobus skryf: ‘…wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees. Julle weet mos: Wanneer ‘n mens se geloof ‘n toets deurstaan, veroorsaak dit dat jy kan volhard. Julle moet egter enduit volhard. Dan sal julle julle lewensdoel bereik en geestelik gesond wees. Julle sal niks kortkom nie’ (Jakobus 1:2-4 NLV). Wanneer jy daaroor dink, is geduld eenvoudig om God met dinge soos ‘hoe’ en ‘hoekom’ en ‘wanneer’ te vertrou. Wanneer jy terugkyk na sommige van die dinge wat jy so graag wou gehad het, besef jy dat God die leisels vasgehou het en jou daarvan weerhou het om in ‘n groot gemors te beland. Ongeduld is een van die dominante karaktereienskappe van kinders; dis geestelike onvolwassenheid. Wees dus geduldig!
Sielskos: Deut 8-10; Luk 11:14-28; Ps 78:65-72; Spr 17:1-2