Rou daaroor en laat dit dan agter

2020-07-13
Psalm 84:7 NLV

As jy in ‘n kultuur grootgemaak is waar enige emosies as ‘n teken van swakheid gesien is, moet jy leer dat dit ‘n gesonde proses – en ‘n Skriftuurlike een – is om oor jou verliese te rou. Die Bybel sê: ‘Gaan hulle deur ‘n droë vallei, word dit omskep tot ‘n fonteinedal… Hulle kragte sal vermeerder…’ (verse7-8 NLV). Wanneer jy jou krag van die Here kry, kan jy deur ‘n ‘droë vallei’ stap en sterker anderkant uitkom. Die lengte van die tyd wat elkeen van ons in die vallei spandeer mag verskil, maar daar kom ‘n punt waar ons God se wil moet aanvaar en aan moet beweeg. Ons is dikwels geskok oor die afsterwe van ‘n geliefde, maar God is nie. Dawid het gesê: ‘U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal voordat een van hulle daar was’ (Psalm 139:16 NLV). Daar is niks wat jy kan doen om dit te verander nie, al probeer jy wat. Die waarheid is dat ons nie soos mense ‘…sonder ‘n toekomsvooruitsig [treur] nie’ (1 Tessalonisense 4:13 NLV). Eendag sal ons met ons verloste geliefdes in die teenwoordigheid van die Here herenig word, waarna ons nooit weer geskei sal word nie. Die vaarwel is net tot wedersiens. Moet intussen nie skaam wees om na hulp uit te reik as jy dit nodig het nie. Onthou: ‘…Jou broer is gebore om jou te help…’ (Spreuke 17:17 NLV). Vra God om jou na ‘n persoon, ‘n berader of ‘n ondersteuningsgroep te lei wat jou kan help om ongedane sake te identifiseer wat jou in die siklus van rou vasgevang hou. Koester jou geliefde se nagedagtenis, maar beweeg vorentoe en vervul jou goddelike lewensdoel.

Sielskos: Jer 49-50; Luk 7:1-10; Ps 118:1-9; Spr 15:27-30