Word ouer met grasie (2)

2023-08-02
Spreuke 3:2 NLV

Teen die jaar 2030, sal een uit vyf van ons sewentig jaar of ouer wees. Dis ongeveer 20 persent van die wêreld se bevolking. Miljoene van ons sal honderd jaar of ouer word. Toe president Dwight D. Eisenhower by ‘n verjaarsdagpartytjie gevra is hoe hy daaroor voel om tagtig te word, het hy geantwoord: ‘Dis vir seker beter as die alternatief!’

Anita Bogan is in 2007 op die rype ouderdom van 106 oorlede. Haar doodsberig in die Los Angeles Times het gelees: ‘Geseën met goeie gesondheid en ‘n gesonde verstand, het Bogan die grootste deel van haar oudag deurgebring deur te doen net wat sy wil, met ‘n vurige, wat-het-ouderdom-met-enigiets-te-doen-houding. In die dekades na haar 80ste jaar het sy ‘n nie-winsgewende organisasie geskep om senior behuising te bou, ‘n blommewinkel oopgemaak, daagliks gholf gespeel, bootvaarte geneem om haar verjaarsdae te vier en mense geïnspireer. Op Bogan se 100ste verjaardag het die Kern County Raad van Toesighouers ‘n ‘Anita Bogan Dag’ verklaar.’ As gevolg van haar houding teenoor die lewe, het Anita die manier hoe mense rondom haar die verouderingsproses sien, verander.

Die Bybel beloof nie net ‘n lang lewe nie, dit beloof ‘n kwaliteit lewe. ‘My seun, moenie vergeet wat ek jou geleer het nie. Hou vas aan my opdragte. Dit sal jou lank laat lewe en jou ‘n vol lewe gee’ (verse 1-2 NLV). ‘Wysheid begin daar waar daar ontsag vir die Here is. Hy wat die heilige God ken, het werklik insig. Wysheid verleng jou lewe, gee jou meer lewensjare’ (Spreuke 9:10-11 NLV). Die geheim om die verouderingsproses te geniet is om ‘n nabye verhouding met God te bou en volgens sy beginsels te leef.

Sielskos: Deut 3-4; Mark 1:35-45; Ps 78:32-39; Spr 16:31

Word ouer met grasie (1)

2023-08-01
Spreuke 10:27 NLV

Maak die idee om ouer te word jou angstig? Indien dit die geval is, is dit tyd om jou waardestelsel te ondersoek. By God is die inhoud belangriker as die pakkie. Om vrede met jou plooie te maak, moet jy in ooreenstemming met Hom kom. Op die ou einde is dit nie die aantal dae in jou lewe wat tel nie, maar die lewenskwaliteit van jou dae.

Jesus se eerste wonderwerk was om water in wyn te verander. Let op wat die seremoniemeester van die huweliksonthaal gesê het: ‘Elke gasheer sit volgens gebruik eers die goeie wyn voor… jy het egter die goeie wyn tot nou toe teruggehou’ (Johannes 2:10 NLV). Dit kan ook jou lewensverhaal wees. Jy hoef nie bang te wees om ouer te word nie. Hou aan veg, hou aan groei, hou aan vorentoe beweeg.

Luister na die woorde van Kaleb: “‘…Ek het volledig by die Here my God gestaan. Moses het vir my daardie dag onder eed belowe: ‘Die land waarna jy gaan kyk het, sal vir altyd aan jou en jou nageslag behoort…’ Die Here het my laat bly lewe soos Hy 45 jaar terug vir Moses beloof het toe ons nog in die woestyn rondgetrek het. Ek is vandag ‘n man van 85. Ek is vandag nog net so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het. Ek het nog steeds dieselfde krag as destyds. Ek kan nog al die tyd uitgaan om oorlog te maak en veilig terug te kom. Gee vir my asseblief die heuwelgebied waarvan die Here daardie dag gepraat het…’ Josua het hom geseën. Hy het vir Kaleb… Hebron gegee” (Josua 14:8-13 NLV).

Dis wat dit beteken om met grasie ouer te word.

Sielskos: Deut 1-2; Mark 1:21-34; Ps 78:17-31; Spr 16:26-30