Werk jou heil uit
2022-05-15Filippense 2:12-13 AFR53
Die Bybel sê: ‘…werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.’ Hierdie Skrifgedeelte klink amper soos ‘n teenstrydigheid, nie waar nie? Dit is egter eerder ‘n paradoks. G.K. Chesterton beskryf ‘n paradoks as volg: “‘n Waarheid wat op sy kop staan om aandag te kry.”
Die sleutel om hierdie spesifieke paradoks te verstaan, lê in die klein woordjie uit. Let op dat die Bybel nie sê: ‘Werk vir jou heil’ nie. Om vir iets te werk beteken om dit te verdien. Die Bybel stel dit baie duidelik dat ons verlossing nie iets is waarvoor ons moet werk nie. Dis ‘n gratis geskenk uit God se genade (sien Efesiërs 2:8-9). Wanneer Paulus sê: ‘Werk julle eie heil uit,’ praat hy van ‘n geestelike oefensessie.
Wat doen jy tydens ‘n fisiese oefensessie? Jy ontwikkel en versterk die spiere wat God reeds vir jou gegee het. Om te oefen beteken om te groei en die meeste te maak van dit wat aan jou gegee is. Wat Paulus hier sê is die volgende: Ontwikkel jou geestelike lewe! God voorsien die krag, maar ons moet toegang daartoe verkry, die skakelaar aansit en dit deur ons lewens laat vloei sodat ons sy wil vir ons lewens kan vervul.
Hoe kan ons dit prakties uitvoer? Deur elke dag tyd te bestee om God se Woord te lees en te bid. Deur mekaar op te skerp en te versterk. Deur die gawes wat God vir ons gegee het, uit te oefen. Die waarheid is dat Hy reeds sy deel gedoen het; nou is dit jou beurt om jou deel te doen.
Sielskos: Gen 2:7-25; 1 Kor 15:39-55